Nuus 14:00
BULLETIN 6 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verdedig die grondwetlikheid van die gesondheidsorgbestuursmodel in die Konstitusionele Hof
# Fikile Mbalula aanvaar die aktivis Anele Mda se verskoning oor die Bozwana-moordbeskuldigings
# En Standard Bank bereik ‘n mylpaal van 50 slim ID-takke in vennootskap met Binnelandse Sake
# Die DA in die Wes-Kaap betoog in die Konstitusionele Hof gesondheidsorg-hervorming moet deur goeie bestuur aangevuur word eerder as gesentraliseerde beheer. Woordvoerder Geordin Hill-Lewis voer aan openbare deelname aan wetgewing moet betekenisvol wees en die Nasionale Gesondheidsversekeringsmodel loop gevaar om mag oormatig te sentraliseer. Hy sê gesondheidsorg-verbetering hang af van verantwoordbaarheid, doeltreffende bestuur en die herstel van bestaande mislukkings in die openbare gesondheidstelsel eerder as om staatsbeheer uit te brei:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die aktivis Anele Mda se verskoning aanvaar nadat die Hooggeregshof in Pretoria haar verlof geweier het om teen ‘n lasteruitspraak te appelleer. Daar is bevind Mda se sosiale media-plasings wat Mbalula verbind met die moord op ‘n sakeman van Noordwes, Wandile Bozwana, is lasterlik en ongegrond. Die tendermagnaat is dood nadat hy en sy vennoot, Betty Baloyi, in 2015 op die N1-snelweg in Pretoria geskiet is. Mda het haar uitlatings teruggetrek. Mbalula sê dis belangrik om reputasies teen vals bewerings te beskerm.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die Nasionale Vervolgingsgesag versoek om op te tree nadat die polisie sy ondersoek na die gebouramp in George voltooi het. Vier-en-dertig mense is dood en 28 beseer toe die gebou ingetuimel het. Macpherson het op die tweede herdenking van die tragedie gesê dit bly ‘n pynlike herinnering aan die behoefte vir verantwoordbaarheid, en beklemtoon geregtigheid kan nie uitgestel word nie:
# Rugby: Die Engelse Rugbyunie steun die span se hoofafrigter, Steve Borthwick, om in beheer te bly tot volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië. Dit volg na ‘n hersiening van vanjaar se Sesnasies waar Engeland vier uit vyf wedstryde verloor het om vyfde op die punteleer te eindig en die eerste keer teen Italië verloor het. Die hersiening het onderhoude met spelers, afrigters en eksterne onafhanklike bydraers ingesluit. Die unie se uitvoerende hoof, Bill Sweeney, sê Borthwick het duidelike planne uiteengesit om die uitdagings die hoof te bied.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-126-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-699-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: Standard Bank, in vennootskap met die Departement van Binnelandse Sake, het ‘n mylpaal bereik met 50 bankondersteunde slim ID-verwerkingstakke. Woordvoerder Kabelo Makeke sê die bank het meer as vyf-duisend aansoeke voltooi, met die meeste kaarte reeds afgehaal en ‘n gemiddelde verwerkingstyd van minder as twee weke. Hy sê hul beplan om teen die einde vanjaar uit te brei na 112 takke om landwyd toegang tot dienste te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….