Nuus 06:00
BULLETIN 6 Mei 6 vm
Goeiemôre Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê daar is geen rede om ’n groeiende negatiewe gevoel teenoor immigrante te vrees nie
# Fadiel Adams word na KwaZulu-Natal geneem om in die hof te verskyn
# En FlySafair se 12-rand verjaarsdaguitverkoping is terug
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika soek ‘n meer gekoördineerde benadering tot migrasiebestuur regoor Afrika. Die afgelope tyd se betogings teen immigrante in die land het kommer oor hernude xenofobiese geweld laat opvlam. Nigerië, Ghana en Mosambiek het amptelik by die regering gekla oor die behandeling van hul burgers in die land. Lamola sê Suid-Afrika versterk sy immigrasiebeleid om nakoming van die land se immigrasiewette te verseker:
# Die parlementslid van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, is deur die polisie van Kaapstad na KwaZulu-Natal vervoer, waar hy vanoggend in die hof sal verskyn. Dit is volgens die party se tesourier-generaal en stafhoof, Ebrahim Burton, tydens ‘n gesprek met die media buite die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie. Adams het homself aan die polisie oorgegee nadat ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Die polisie het bevestig die lasbrief hou verband met bewerings dat hy ingemeng het in die ondersoek na die moord op die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, Sindiso Magaqa.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê hy monitor die weerstoestande noukeurig na die sluiting van skole in dele van die Eden- en Sentraal-Karoo-distrikte weens waarskuwings oor ernstige reënval. Skole sal na verwagting Vrydag heropen, hoewel dit sal afhang van verdere weerontwikkelinge later in die week. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê leerders en onderwysers se veiligheid bly die hoogste prioriteit terwyl toestande steeds gemonitor word:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die stigting van die Afrika-Unie was ‘n belangrike mylpaal in die bevordering van eenheid en ontwikkeling van die vasteland. In sy hoofrede tydens die Afrika-Wêrelderfenisdag-geleentheid en die 20ste herdenking van die Afrika-Wêrelderfenisfonds in Midrand, Gauteng, het Mashatile gesê die vasteland moet sy kulturele en natuurlike erfenis gebruik om langtermyn- ekonomiese groei te steun:
# Rugby: ’n Bekende gesig wag Vrydagaand op die Stormers in sy Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Ulster in Belfast. ‘n Voormalige spanmaat, Juarno Augustus, speel nou vir die Ierse span, vir wie hy die wendrie in verlede naweek se wedstryd teen Exeter Chiefs gedruk het. Die Stormers se voorspelerafrigter Rito Hlungwani sê hulle besef die losvoorspeler, met die bynaam Trokkie, is ’n goeie baldraer wat ’n ekstra wapen by die gasheer se aanvallende spel voeg. Die Stormers is tans boaan die punteleer en Ulster agtste.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-10-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-547-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: FlySafair vier sy 12de verjaarsdag met sy jaarlikse kaartjie-uitverkoping. Van negeuur vanoggend af gaan die lugredery 50-duisend enkelrigting-kaartjies vir sy binnelandse netwerk op sy webwerf vrystel teen 12-rand elk. Gegewe die huidige styging in stralerbrandstofpryse as gevolg van die Midde-Oosterse konflik, sal lughawebelasting en toepaslike brandstofheffings by die basisprys gevoeg word. FlySafair sê soos met vorige verkope, sal daar ‘n “wagkamer” wees om ‘n billike verkoopservaring vir kliënte te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….