Nuus 17:00
BULLETIN 5 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, Hendrik Flynn, getuig korrupsie bemagtig georganiseerde misdaad
# Wes-Kaapse skole in die Eden- en Sentraal-Karoo-distrikte word gesluit weens slegte weer
# En, mens-tot-mens oordrag van hantavirus word vermoed op luukse passasierskip
# Die Valke se hoof van ernstige georganiseerde misdaad, Hendrik Flynn, het aan die Madlanga-kommissie gesê georganiseerde misdaad kan nie sonder korrupsie funksioneer nie. Hy het getuig oor die kokaïendiefstal in Port Shepstone in 2021, waar 541-kilogram uit polisieberging gesteel is. Flynn sê korrupsie bemagtig misdaad-netwerke, waarmee onwettige goedere op wettige markte verskyn. Hy het bygevoeg dat swak beheermaatreëls en tussengangers help om onwettige opbrengste as wettige inkomste te verbloem:
# Die Konstitusionele Hof het met ‘n driedaagse verhoor begin oor die wettigheid van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Die Raad van Gesondheidsorgfinansierders en die Wes-Kaapse regering voer aan noodsaaklike inligting, insluitend befondsing, koste en bedryfs-besonderhede, is nie tydens die openbare raadplegings-tydperk bekend gemaak nie, wat ingeligte deelname verhoed het. President Cyril Ramaphosa het die inwerkingstelling van die wet opgeskort hangende die uitspraak. ‘n Uitspraak teen die wet sal veroorsaak dat dit teruggestuur word na die Parlement, wat die instelling van die skema sal vertraag.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê skole in dele van die Eden- en Sentraal-Karoo-distrikte sal môre en Donderdag gesluit wees weens waarskuwings van ernstige reënval. Dit volg na gesprekke met rampbestuursowerhede en die Suid-Afrikaanse Weerdiens, met sluitings wat sekere gebiede in George, Knysna en Oudtshoorn raak. Maynier sê die besluit is geneem om leerders en onderwysers veilig te hou:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie vermoed ‘n seldsame mens-tot-mens-oordrag het plaasgevind tussen noue kontakte aan boord van ‘n luukse passasierskip wat deur sewe bevestigde of vermeende hantavirus-gevalle getref is. ‘n Nederlandse paartjie en ‘n Duitse burger is dood, terwyl ‘n Britse burger in intensiewe sorg in Suid-Afrika is. Die WGO fokus nou op die ontruiming van die siek passasiers wat steeds aan boord is. Hy herhaal die gevaar vir die breër publiek is laag omdat die siekte gewoonlik versprei word deur besmette knaagdiere en selde tussen mense oorgedra word.
# Padwedlope: Die organiseerders van die Londense Marathon ondersoek die moontlikheid om volgende jaar se wedloop oor twee dae te laat plaasvind. ‘n Rekord van meer as 1,3-miljoen atlete het aansoek gedoen om deel te neem. Die uitslag van die openbare stemming sal vroeg in Julie vrygestel word. Uitvoerende hoof Hugh Brasher het aan die BBC gesê die rekord aantal aansoeke vestig die wedloop as een van die wêreld se bestes:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-311-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-567-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 110-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….