Nuus 08:00
BULLETIN 5 Mei 2026 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die sperdatum vir SAKP-lede staan steeds
# AfriForum is bekommerd oor die veiligheid van militêre infrastruktuur
# En Donald Trump dreig om Iranse magte ‘van die aardbol te vee’
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die SAKP se besluit om onafhanklik aan die munisipale verkiesing deel te neem, is ‘n verspeelde geleentheid op ʼn tydstip waar die alliansie versterk moet word. Die ANC het lede wat dubbele lidmaatskap het tot Maandag tyd gegee om ʼn geskrewe verklaring in te dien om aan te dui vir watter party hulle gaan stemme werf. Mbalula sê die sperdatum is steeds van krag:
# Die EFF het die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Bhuti Manamela, se besluit verwerp om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente onder administrasie te plaas. Die besluit volg op ‘n reeks bedankings, insluitend dié van die gewese voorsitter, doktor Karen Stander, en die tussentydse voorsitter, doktor Mugwena Maluleke. Die EFF sê die jongste ontwikkkeling is ‘n voortsetting van die skema se voortslepende jarelange wanfunksionering onder die ANC-regering. Hy voeg by dat die skema voorheen onder administrasie geplaas is, terwyl die toestande waarmee studente te doen het, nie verbeter het nie.
# AfriForum sê die onlangse diefstal van wapens by die Lyttelton-weermagbasis in Pretoria beklemtoon weereens die staat se versuim om wapens veilig te bewaar. Minstens drie R4-gewere en ʼn granaat-lanseerder is gesteel toe diewe ʼn gat in die omheining geknip het om toegang tot die perseel te kry. Jacques Broodryk van AfriForum sê dis duidelik dat wetsgehoorsame vuurwapen-eienaars nie die probleem is nie, maar die staat self wat nie in staat is om sy eie arsenaal op te pas nie:
# President Donald Trump het gewaarsku dat Iranse magte “van die aardbol afgevee” sal word indien hulle Amerikaanse skepe teiken. Dit volg nadat Amerika sewe Iranse snelbote in die Straat van Hormoes getref het terwyl die leër gestrande skepe uit die Golf begelei. Iran se leër waarsku hy sal op enige Amerikaanse vlootvaartuig skiet wat die seestraat nader, en sê hy het reeds ʼn Amerikaanse oorlogskip getref. Trump beskryf die oorlog teen Iran as ʼn geringe ompad:
# Krieket: Die Mumbai Indians het hul skrale kans om die Indiese Premierliga se uitspeelronde te haal, lewend gehou met ʼn ses-paaltjie-oorwinning oor Lucknow Super Giants. Nicholas Pooran het 63 lopies van slegs 21 balle behaal om die Super Giants se telling op 228 vir vyf te staan te bring. Daarna het Rohit Sharma geskitter met 84 van 44 balle terwyl Ryan Rickelton 83 bygedra het. Mumbai Indians het hul hoogste suksesvolle lopie-teiken in IPL-geskiedenis bereik met agt balle oor. Mumbai kort nou ses punte om die topvier te haal met vier wedstryde wat oorbly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-657-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-542-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….