Nuus 06:00
BULLETIN 5 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse rand verswak teenoor ‘n stewiger dollar
# Die Madlanga-kommissie staar toenemende druk in die gesig weens sy werklas
# En Australië begin met die verhoor oor die Bondi Beach-aanval
# Die Suid-Afrikaanse rand het gister verswak, onder druk van ‘n stewiger Amerikaanse dollar en ‘n styging in oliepryse, namate toenemende spanning tussen die Verenigde State en Iran die wêreldmarksentiment teister. Die rand het oor die middaguur teen 16-rand-69-sent teenoor die dollar verhandel, ‘n daling van 0,5-persent sedert sy vorige sluiting. Die Amerikaanse dollar het teenoor verskeie geldeenhede hoër gestyg, terwyl olie met meer as drie-persent tot meer as 110-dollar per vat gestyg het. Die rand is uitgelewer aan wêreldmarksentiment sedert die VSA en Israel hul oorlog teen Iran begin en Teheran teruggeslaan het.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente is onder administrasie geplaas na ernstige bestuurs-, finansiële en operasionele uitdagings binne die instelling. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het in ‘n media-inligtingsessie die aanstelling van Hlengani Mathebula van die Tshwane Universiteit van Tegnologie as administrateur aangekondig om die bestuur van die skema oor te neem. Manamela sê die ingryping is daarop gemik om die entiteit te bestendig en voortgesette studentesteun te verseker, met befondsing, toelaes en appèlle wat sonder onderbreking voortduur:
# Die Madlanga-kommissie van Ondersoek sê hy is onder toenemende druk as gevolg van die swaar werklas. Die woordvoerder, Jeremy Michaels, sê ‘n lang lys getuies moet nog getuig, met besonderhede wat weens sekuriteitskwessies beperk word. Michaels sê vertragings, insluitend ‘n verlore dag weens regsuitdagings, het die druk verhoog. Hy sê egter ten spyte hiervan is die kommissie steeds gefokus op die voltooiing van sy mandaat voor die vasgestelde sperdatum van 31 Augustus:
# Die DA sê die tugstappe teen die Tshwane-onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, is onvoldoende. Hy is beboet met die ekwivalent van twee maande se salaris nadat bevind is dat hy finansieel voordeel getrek het uit ‘n munisipale sekuriteitskontrak. Die betrokke kontrak is toegeken aan 22 verskillende maatskappye, insluitend een wat deur Modise besit word. Dit volg ten spyte daarvan dat dit verskeie kere as onreëlmatig gemerk is voordat die tender amptelik toegestaan is. Jacqui Uys van die DA sê Modise is uiteindelik ontmasker:
# Australië het begin met openbare verhore in ‘n ondersoek na die massaskietery op Bondi Beach in Desember, waarin 15 mense dood is, met Joodse Australiërs wat getuienis lewer van hul ervaring met toenemende binnelandse antisemitisme. Die afgetrede regter aan die hoof van die koninklike ondersoekkommissie, Virginia Bell, sê die eerste openbare verhore sal fokus op die aard en omvang van antisemitisme. Die tweede stel verhore later hierdie maand sal fokus op die omstandighede wat tot die Bondi Beach-aanval gelei het en kwessies wat genoem is in die tussentydse verslag.
# Rugby: Die kwalifisering van die Ierse reuse Leinster en Ulster vir die eindstryd van die Kampioenebeker kan as positief beskou word vir die Stormers en die Leeus se kanse om die Verenigde Rugbykampioenskap-uitspeelwedstryde te haal. Leinster is tans vierde op die VRK-punteleer en Munster vyfde, en albei spanne moet op twee kompetisies fokus met hulle voorbereidings. Die Leeus speel hierdie Saterdag teen Leinster en die volgende week teen Munster, terwyl die Stormers hierdie Vrydag teen Munster, ook in Ierland, sal speel. Die Stormers is tans bo-aan die punteleer en die Leeus derde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-277-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-519-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….