Nuus 17:00
BULLETIN 4 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie bespreek befondsing en regsake met die regering
# Die hoof van SARS teiken belastinguitbreiding en etiek
# En tennis: Dertien spelers onttrek aan die Italiaanse Ope
# Die Madlanga-kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling is in gesprek met die Ministerie van Finansies om voldoende befondsing en hulpbronne te bekom. Hy sê die regering is ondersteunend en verwag dat sake opgelos sal word. Michaels het ook bevestig die sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, se regsverteenwoordiger praat met die kommissie oor ‘n aansoek vir die onttrekking van getuienisleier Matthew Chaskalson:
# Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Johnstone Makhubu, gaan in sy eerste 100-dae fokus op die versterking van etiese gedrag en die beëindiging van onwettige handel. Hy het tydens die inwyding van ‘n nuwe dienssentrum in Newtown, Johannesburg, teenoor SABC News die voortsetting van bestaande hervormings uitgelig. Makhubu beklemtoon ook die voorbereiding vir ‘n gladde indiening-seisoen en sê openbare vertroue hang af van integriteit en doeltreffende belasting-administrasiebedrywighede:
# Die DA het die Parlement versoek om die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Mzamo Buthelezi, te dagvaar oor die misbruik van openbare fondse. Verslae toon byna 800-miljoen-rand word jaarliks bestee aan salarisse vir geskorste amptenare. Die DA-parlementslid, Eleanore Spies, sê dit weerspieël ‘n ernstige ineenstorting van aanspreeklikheid. Meer as 600 amptenare bly geskors, met baie wat buite die wettige tydraamwerke is, wat verdere druk op reeds sukkelende munisipaliteite en openbare finansies plaas.
# Iran sê hy het ‘n Amerikaanse oorlogskip gedwing om om te draai en nie die Seestraat van Hormoes binne te gaan nie, maar ‘n Amerikaanse amptenaar ontken die skip is deur Iranse missiele getref. Iran se semi-amptelike Fars-nuusagentskap berig twee missiele het die skip by die suidelike ingang van die seestraat getref. Iran het sedert die begin van die oorlog byna alle verskepings na en van die Golf, behalwe sy eie, geblokkeer en ongeveer ‘n vyfde van die wêreld se olie- en gasverskepings afgesny wat oliepryse met minstens 50-persent laat styg het.
# Tennis: Die propvol beroepskalender veroorsaak chaos by die Italiaanse Ope wat dié week in Rome begin, maar skep terselfdertyd onverwagte geleenthede vir spelers laer op die wêreldranglys. Altesaam 13 spelers het reeds onttrek weens beserings, waaronder die wêreld-nommer-twee en verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz van Spanje. Ander wat die kleibaantoernooi gaan misloop, sluit in die Amerikaners Taylor Fritz en Reilly Opelka en die Brit Jack Draper. Die plaaslike held en wêreldnommer-een, Jannik Sinner, sal die topgekeurde wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-657-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-563-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 109-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….