Nuus 12:00
BULLETIN 4 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers vra die Konstitusionele Hof om betekenisvolle openbare deelname in Nasionale Gesondheidsversekering-wetgewing te beskerm
# Iran beloof om die Seestraat van Hormoes met sy volle mag te beskerm
# En rugby: Die afrigter van die Junior Bokke loof groei en geloof vir die sukses in die Onder 20-Rugbykampioenskap
# Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers sê sy Nasionale Gesondheidsversekering-saak voor die Konstitusionele Hof is nie ‘n uitdaging van die beginsel van omvattende gesondheidsdekking nie. Die hof gaan die saak van môre tot Donderdag aanhoor. Katlego Mothudi van die raad sê daar moet bepaal word of die Parlement sy grondwetlike plig nagekom het om betekenisvolle openbare deelname te bemiddel voor wetgewing ingestel word wat die land se gesondheidstelsel onherroeplik sal hervorm:
# Forum for South Africa moedig Suid-Afrikaners aan om te registreer sodat hulle in die komende munisipale verkiesing kan stem. Die verkiesing vind op Woensdag, 4 November, plaas. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê elkeen wat nie stem nie, gee ‘n geskenk aan dié wat die land gefaal het. Hy sê dis nie aktivisme as mense nie stem nie, maar oorgawe:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê koue, nat en winderige weerstoestande word van vandag tot Donderdag in groot dele van die land verwag. Die verandering hou verband met ʼn afsny-laagdrukstelsel wat van môreoggend af oor die westelike dele van die land verwag word. Die weervoorspeller, Lehlohonolo Thobela, sê die stelsel sal eers die Wes-, die Noord- en die Oos-Kaap tref voor dit van môremiddag oor die sentrale en oostelike binneland ooswaarts beweeg:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se Weermag waarsku hy sal Amerikaanse magte aanval as hul die Seestraat van Hormoes binnedring. Dit volg nadat president Donald Trump aangekondig het die Amerikaanse Weermag sal van vandag gestrande skepe deur die knelpunt lei. Die Iranse bevelvoerder, Ali Abdollahi, sê enige Amerikaanse poging in die seestraat sal as ‘n skending van die skietstilstand beskou word. Hy voeg by Teheran sal die roete met sy volle mag beskerm, aangesien veilige deurgang altyd met sy Weermag gereël en beheer moet word.
# Rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote, het sy groep geluk gewens vir hul groei en gesamentlike vertroue om die Onder-20 Rugbykampioenskap in Gqeberha in te palm met nog ‘n wedstryd oor. Dit volg nadat Suid-Afrika Australië 57-17 oorrompel het. Foote sê hoewel fisieke oorheersing ‘n kenmerk van hul spel bly, het die groep ‘n sterker en hegter idenititeit ontwikkel. Hy het kaptein Riley Norton en die leierskapspan ook geluk gewens met hul leiding. Die Junior Bokke en Nieu-Seeland pak mekaar Saterdag in die laaste ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-774-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-576-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….