Nuus 08:00
BULLETIN 4 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Moontlike hantavirus-uitbreking op ‘n passasierskip eis drie slagoffers
# Die Parlement is bekommerd oor die mislukkings by die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens
# En tennis: Sinner wen die Madrid Ope en verseker ‘n 5de agtereenvolgende Meesterstitel
# Drie mense, in sluitend ‘n egpaar van Nederland, is dood na ʼn moontlike hantavirus-uitbreking op die passasierskip, MV Hondius, op ʼn vaart van Argentinië na Kaap Verde. ʼn Britse man wat op die skip siek geword het, is in ʼn privaat hospitaal in Johannesburg opgeneem. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê een hantavirus-geval is in ʼn laboratorium bevestig, en nog vyf moontlike gevalle word ondersoek. Die hantavirus word versprei deur kontak met die urine of mis van besmette knaagdiere soos rotte en muise.
# Die National Coloured Congress se leier, Fadiel Adams, sê hy glo hy word geteiken weens sy uitsprake oor die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, en lede van die taakspan oor politieke moorde. Dit volg na ʼn klopjag Saterdag by sy vorige woning in Mitchells Plain, Kaapstad. Mkhwanazi het voor die Madlanga-kommissie getuig, waar hy Adams beskuldig het dat hy vertroulike inligting van Misdaadintelligensie verkeerd hanteer het. Adams sê hy is onskuldig en weet nie waarom daar ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is nie:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Gesondheid sê dit is kommerwekkend dat die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste nie aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se laboratoriumraamwerk voldoen nie. Hy sê dit wek ernstige vrae oor die gehalte, betroubaarheid en bestuur van diagnostiese dienste in die openbaregesondheidstelsel. Die komitee sê hy is uiters bekommerd oor die lang tyd wat dit neem om uitslae te bekom, veral in patologiedienste. Hy is ook besorgd oor gedurige bedryfsprobleme, insluitend leemtes in verkryging, infrastruktuur en inligtingstelsels.
# Gesiene figure in die MK-party steun volgens berigte die voormalige DA-burgemeester van Midvaal, Bongani Baloyi, as die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg. Hy is in 2013 as burgemeester van Midvaal verkies. Volgens die Sunday Times glo bronne in die MK-Party dat Baloyi se ervaring en sukses as burgemeester hom die beste kandidaat maak om die amp vir die party te beklink. Baloyi sal te staan kom teen Helen Zille van die DA en ActionSA-leier Herman Mashaba. Die ANC en EFF moet nog hulle kandidate aankondig.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het die Madrid Ope gewen en die eerste man geword wat vyf agtereenvolgende Meesters-titels buit. Die Italianer het met die Duitser, Alexander Zverev, afgereken. Hy spog nou met 28 agtereenvolgende seges op hierdie vlak, insluitend die titel in Parys verlede jaar, en Indian Wells, Miami en Monte-Carlo vanjaar. Indien die 24-jarige speler hierdie week die Italiaanse Ope wen, het hy sy loopbaan-“Goue Meesters” voltooi. Sinner sê hy het hard gewerk om sukses te behaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-259-duisend-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-609-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….