Nuus 07:00
BULLETIN 4 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra dat minister Manamela rekenskap te gee oor die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema-krisis
# Donald Trump sê Iran het nog nie ‘n groot genoeg prys betaal nie
# En rugby: Die Junior Springbokke beklink die o.20-rugbykampioenskaptitel
# Die DA vra die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, om dringend in die Parlement verslag te doen oor stappe om bestuur by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente te herstel, die raad te bestendig en studente te beskerm. Dit volg na die onlangse bedanking van raadslede, insluitend die tussentydse voorsitter, Mugwena Maluleke. Delmaine Christians van die DA sê interne konflik tussen raadslede raak besluitneming, plaas bestuursprosedures onder druk en kan openbare vertroue knou:
# Die EFF is omgekrap oor die regering se jaarlikse besteding van ongeveer 800-miljoen-rand aan geskorste staatsamptenare. Volgens ‘n verslag deur die Staatsdienskommissie is 674 provinsiale en nasionale amptenare tans geskors, waarvan 516 vir langer as die wetlik voorgeskrewe tydperk van 90 dae. Die EFF sê dit ontbloot die algehele ineenstorting van regering en gevolgebestuur. Die party eis die afhandeling van tugprosesse binne 90 dae, outomatiese ontslag van rekenpligtige beamptes wat onwettige langdurige skorsings toelaat, en strafregtelike vervolging waar skorsings korrupsie en finansiële wangedrag behels.
# Gauteng se polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, het erken dat die vlaag ontvoerings in die provinsie ‘n groot probleem is. Dit volg nadat die spazawinkel-eienaar, Mazwi Kubheka, ʼn maand gelede ontvoer is terwyl hy op pad was bank toe. Hy is Saterdag uiteindelik vrygelaat en het by die Vosloorus-polisiekantoor aangemeld. Niemand is in hegtenis geneem nie. Mthombeni sê die teen-ontvoeringseenheid probeer sy bes om alle ontvoeringsake op te los:
# ‘n Ondersoek na die geskorste polisiekommissaris van Mpumalanga, Daphney Manamela, begin hierdie week en ondersoek bewerings van wangedrag, insluitend nepotisme, magsmisbruik en misbruik van staatshulpbronne. Die ondersoek volg na haar omstrede media-inligtingsessie waartydens sy senior polisieleierskap, insluitend die geskorste Nasionale Polisiekommissaris Fannie Masemola en die voormalige polisieminister Bheki Cele, van korrupsie beskuldig het. Manamela het gevra dat die verrigtinge vir die publiek moet oop wees. Haar huidige termyn verstryk einde Junie.
# President Donald Trump van Amerika sê Iran het nog nie ʼn “groot genoeg prys” betaal vir dit wat hy die afgelope 47 jaar gedoen het nie. Dit volg nadat Iran deur Pakistan ʼn nuwe 14-punt-plan aan Amerika voorgelê het. Volgens berigte fokus dit op die opheffing van blokkades en ʼn nuwe meganisme om die Straat van Hormoes te bestuur. Die ooreenkoms sluit blykbaar ook vergoeding aan Teheran in vir oorlogskade. Trump sê hy sal die nuwe voorstel deurgaan, maar twyfel of dit aanvaarbaar sal wees.
# Rugby: Die Junior Springbokke het Australië by die Nelson Mandelabaai-stadion in die Baai met 56-17 afgeransel om die Onder 20-Rugbykampioenskap te wen. Suid-Afrika het agt drieë, insluitend twee strafdrieë gedruk om ʼn bonuspunt te behaal. Intussen het Argentinië se Onder-20’s die verdedigende kampioene, Nieu-Seeland, met 25-17 verslaan. Albei spanne het nou vier punte, wat beteken die Junior Bokke se tweede bonuspunt-oorwinning laat hulle met tien punte. Suid-Afrika kom Saterdag in hul laaste wedstryd teen die Junior All Blacks te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-470-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-603-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….