Nuus 06:00
BULLETIN 4 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF kritiseer die regering se besteding van 800-miljoen-rand aan geskorste staatsamptenare
# DNS-toetse sal die identiteit van ‘n krokodilslagoffer bevestig
# En atletiek: Suid-Afrika se mansaflosspanne wen twee silwermedaljes by die Wêreld-afloskampioenskap
# Die EFF is omgekrap oor die regering se jaarlikse besteding van ongeveer 800-miljoen-rand aan geskorste staatsamptenare. Volgens ‘n verslag deur die Staatsdienskommissie is 674 provinsiale en nasionale amptenare tans geskors, waarvan 516 vir langer as die wetlik voorgeskrewe tydperk van 90 dae. Die EFF sê dit ontbloot die algehele ineenstorting van regering en gevolgbestuur. Die party eis die afhandeling van tugprosesse binne 90 dae, outomatiese ontslag van rekenpligtige beamptes wat onwettige langdurige skorsings toelaat, en strafregtelike vervolging waar skorsings korrupsie en finansiële wangedrag behels.
# Die Madlanga-kommissie vier vandag 100 dae van volle sittings, wat misdaad, politieke inmenging en korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek. Die kommissie het reeds meer as 37 getuies aangehoor nadat die taakspan vir Politieke Moorde ontbind is deur die geskorste polisieminister Senzo Mchunu, soos uitgewys deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi. Veiligheidsontleder Andy Mashaile het aan Newzroom Afrika gesê die kommissie het senior polisiebeamptes en politieke figure ontmasker, wat tot gevolgebestuur gelei het:
# Die polisie in Mpumalanga doen DNS-toetse om te bepaal of menslike oorskot wat in ‘n krokodil in Komatipoort gevind is, aan ‘n vermiste sakeman behoort. Die reptiel is opgespoor en van kant gemaak na ‘n dae lange soektog na ‘n vermiste 59-jarige sakeman wat meer as ‘n week gelede in die Komati-rivier meegesleur is. Polisie sê die krokodil is opgespoor en van kant gemaak voordat die oorskot gevind is. Ondersoekers sê forensiese ontleding sal die slagoffer se identiteit bevestig terwyl ondersoeke na die omstandighede rondom die voorval voortduur.
# Die burgemeester van Ekhuruleni, Nkosindiphile Xhakaza, het die belangrikheid beklemtoon van strenger afdwinging van sakeverordeninge wat die spazawinkel-sektore in Ekurhuleni reguleer. Dit volg na die terugkeer van die Vosloorus-spazawinkeleienaar Mazwi Kubheka, wat ‘n maand gelede ontvoer is. Die 27-jarige het hom na ‘n uitgebreide soektog by ‘n plaaslike polisiestasie aangemeld. Xhakaza het gemeenskapsleiers en raadslede geprys vir hul pogings en gesê hul samewerking het gehelp om spanning op te los. Hy het ‘n beroep gedoen op strenger toesig:
# Die Israelse weermag het gister ‘n dringende waarskuwing uitgereik aan inwoners van 11 dorpe en nedersettings in die suide van Libanon, en hulle aangespoor om hul huise te ontruim en ten minste een kilometer weg te trek na oop gebiede. Die weermag het gesê dat hy operasies teen Hezbollah uitvoer, na wat beskryf word as ‘n skending van die wapenstilstandooreenkoms, en gewaarsku dat enigiemand naby Hezbollah-vegters of -fasiliteite in gevaar kan wees. Israel voer steeds aanvalle regoor Suid-Libanon uit, en sy troepe beset ‘n strook in die suide van die land.
# Atletiek: Suid-Afrika het silwer gewen in die mans 4×100-meter by die Wêreldafloskampioenskap in Botswana. Die span, bestaande uit Akani Simbine, Cheswill Johnson, Bradley Nkoane en Mvuyo Moss, het ‘n nuwe Afrika-rekord van 37,49 sekondes opgestel, terwyl die VSA goud en Duitsland brons gewen het. Suid-Afrika het ook silwer in die mans 4×400-meter verseker in 2 minute: 57,07 sekondes, ‘n nasionale rekord. Botswana was eerste, met Australië derde. Suid-Afrika se mans se 4×100-; 4×400- en 4×400-meter gemengde aflosspanne het gekwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldatletiekkampioenskap in Beijing.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 22-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-172-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-626-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….