Nuus 13:00
BULLETIN 2 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa druk vir goedkeuring van die Koalisiewetsontwerp voor die plaaslikeregeringsverkiesing
# Die DA sê hy is gereed vir die verkiesing en doen ‘n beroep op funksionele munisipaliteite
# En Julius Malema verwerp die onlangse Afrofobie-aanvalle in Suid-Afrika
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê hulle werk daaraan om die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture voor die verkiesing op 4 November goed te keur. Die wetsontwerp is daarop gemik om ‘n raamwerk vir bestendige koalisieregerings te bied. Hlabisa sê bindende ooreenkomste sal help om bestendigheid in munisipaliteite te verseker. Terwyl sommige partye die voorstel gekritiseer het, glo die regering duidelike is reëls nodig om koalisies te reguleer en konsekwente, verantwoordbare regering op plaaslike vlak te verseker.
Adjunkpresident Paul Mashatile sê intussen daar is geen verdeeldheid tussen die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party nie, aangesien beide alliansievennote hul individuele veldtogte beplan voor die plaaslikeregeringsverkiesing. Mashatile het in Limpopo die belangrikheid van eenheid binne die alliansie beklemtoon en lede aangespoor om verenig te bly en te fokus op die versterking van die alliansie na die verkiesing. Hy sê hulle sal betrokke bly na die verkiesing om toekomstige samewerking te verseker:
# DA-parlementslid Karabo Khakhau sê die party is gereed vir die munisipale verkiesing op 4 November en voeg by dienslewering moet dringend verbeter. Khakhau beklemtoon voortslepende rioolstortings en swak infrastruktuur. Sy sê Suid-Afrikaners verdien aanspreeklike regering deur bevoegde administrasie, deursigtige finansiële bestuur en doeltreffende dienslewering aan gemeenskappe:
# Die Departement van Binnelandse Sake het nog twee amptenare in sy teen-korrupsieveldtog in hegtenis geneem wat die totale afdankings sedert Junie 2024 op 63 te staan bring. ‘n Amptenaar is in Pinetown, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem vir vermeende bedrieglike sterfteregistrasie waarvoor drie-duisend-rand omkoopgeld aangebied is. In Secunda, Mpumalanga, is nog ‘n amptenaar en twee burgerlikes gearresteer vir die uitreiking van slim-ID’s aan nie-kwalifiserende buitelandse burgers. Minister Leon Schreiber sê die departement se geen-verdraagsaamheidsbenadering lei tot konsekwente arrestasies, tugstappe en strenger maatreëls.
# Die EFF-leier Julius Malema het dade van Afrofobie in Suid-Afrika veroordeel en ‘n beroep gedoen op eenheid onder Afrika-nasies. Malema het gewaarsku teen diskriminasie en geweld teen buitelandse burgers en gesê sulke optrede ondermyn die land se waardes en bevrydingsgeskiedenis. Hy het gemeenskappe aangespoor om verdeeldheid te verwerp en solidariteit te omarm en bygevoeg Afrika se vooruitgang hang van samewerking af. Malema het die EFF se standpunt teen xenofobie herbevestig en ‘n beroep gedoen op vreedsame naasbestaan.
# En sokker: Alle oë is vanaand op die Nedbankbeker-eindstryd wanneer Durban City FC teen TS Galaxy op die Nuwe Peter Mokaba-stadion in Polokwane te staan kom. Vanaand se wedstryd is ‘n belangrike geleentheid vir Durban City om ‘n 17 jaar lange trofee droogte vir KwaZulu-Natal-spanne te beëindig. TS Galaxy beoog om hul beroemde 2019-triomf te herhaal. Benewens die silwerware, is die wenner verseker van ‘n aanloklike prys van sewe-miljoen-rand en ‘n plek in die volgende CAF-Konfederasiebeker. Die afskop is om ses uur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….