Nuus 09:00
BULLETIN 1 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sien homself as ’n alternatief vir mislukte regering voor die verkiesing
# DA sê Mangaung-inwoners betaal die prys vir bestuursmislukkings
# En verspreide reënbuie word tot vanmiddag oor verskeie provinsies verwag
#ActionSA verwelkom die aankondiging dat die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November gehou sal word. Volgens die party is baie munisipaliteite in ‘n krisis, met wydverspreide diensleweringsmislukkings, swak finansiële bestuur en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid. Michael Beaumont van ActionSA sê die party is gereed om reg te maak wat deur ander gebreek is en belowe om sterk burgemeesters- en wykskandidate aan te wys wat op gemeenskapsbehoeftes sal fokus:
# AfriForum sê ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in die Wes-Kaap teen die Stad Kaapstad se watertariefmodel wat op eiendomswaarde gebaseer is, hou verreikende implikasies in vir munisipaliteite landwyd. Die hof het bevind dat die tariefstelsel onwettig is. Jurie Ferreira van AfriForum voer aan plaaslike regerings sal nou moontlik hul prysstrukture moet hersien om te verseker dat heffings streng op werklike verbruik gebaseer is:
# Die DA het dissiplinêre klagtes ingedien teen Mangaung se munisipale bestuurder, Sello More, oor finansiële wanbestuur en swak toesig wat deur die ouditeur-generaal uitgewys is. Die party voer aan toesighoudende liggame het versuim om op te tree, wat bestuursprobleme veroorsaak het en dienslewering negatief beïnvloed. Tjaart van der Walt van die DA sê die bewerings sluit in onreëlmatige uitgawes, swak interne beheermaatreëls en ‘n gebrek aan gevolgbestuur:
# Regskundiges sê die jongste strafregtelike aanklagte teen voormalige FBI-direkteur James Comey is fundamenteel gebrekkig en sal op grond van vryheid van spraak verwerp word. Die aanklagte hou verband met ‘n plasing deur Comey verlede Mei op Instagram van skulpe op ‘n strand wat die getalle “86 47” uitbeeld. Die aanklag dui op ‘n hernieude poging deur die Departement van Justisie om vermeende politieke vyande van president Donald Trump te vervolg. Die nommer 86 word deur restaurante gebruik om weiering van diens aan te dui, terwyl 47 ‘n moontlike verwysing na Trump as die 47ste Amerikaanse president is.
# Rugby: Die halfeindronde van die Kampioenebeker vind hierdie naweek plaas met die Ierse span Leinster wat môremiddag die Franse span Toulon in die Aviva-stadion in Dublin verwelkom. Die verdedigende kampioene, Bordeaux-Bègles, ontvang die Engelse span Bath in Frankryk. Die eindstryd van die kompetisie, wat dikwels beskryf word as die wêreld se moeilikste klubkompetisie, word op die 23ste van hierdie maand in Bilboa, Spanje, gespeel in die San Mamés-stadion, wat 53-duisend toeskouers kan huisves.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê die weerstelsel wat dele van die land raak, sal ooswaarts beweeg en vandag begin opklaar. Verspreide buie en donderstorms kan egter steeds tot vanmiddag in sommige provinsies voortduur, insluitend Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Vrystaat en die Oos-Kaap. Weervoorspeller Moneiwa Singa sê toestande sal geleidelik verbeter, hoewel koeler weer na verwagting sal voortduur na etlike dae van wydverspreide reën en storms oor die sentrale binneland:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….