Nuus 08:00
BULLETIN 1 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie verwelkom die aankondiging van die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November
# Stad Kaapstad verloor sy tariefstryd in ’n mylpaaluitspraak
# En, Iran dreig met ‘pynlike’ optrede as die VSA aanvalle hervat, met oliepryse wat wipplank ry
# Die Verkiesingskommissie verwelkom die aankondiging dat die plaaslike regeringverkiesing op 4 November gehou sal word, aangesien dit sekerheid bied vir verkiesingsbeplanning. Die kommissie moedig alle stemgeregtigde kiesers aan om te verseker dat hulle in die korrekte stemdistrikte geregistreer is, aangesien kiesers slegs mag stem waar hulle geregistreer is. David Mandaha van die kommissie moedig burgers aan om aanlyn of tydens die nasionale kieserregistrasienaweek op 20 en 21 Junie te registreer of hul besonderhede by te werk:
# Die Hooggeregshof in die Wes-Kaap het beslis die Stad Kaapstad se vaste tariefkoste in sy 2025/2026-begroting is onwettig en ongeldig. Die hof het koste vir die skoonmaak van die stad, water en riool tersyde gestel, met die besluit wat op 30 Junie in werking tree. Die stad is opdrag gegee om regskoste te betaal. Die saak is aanhangig gemaak deur die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging en AfriForum, wat aangevoer het die tariefstelsel is ongrondwetlik en onbehoorlik gekoppel aan eiendomswaardes.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die verhoor van Willah Mudolo en vyf medebeskuldigdes sal op 4 Mei in die Hooggeregshof in Pretoria begin. Die groep staan tereg op aanklagte van afpersing, bedrog en geldwassery wat verband hou met ‘n saak waarby die selfverklaarde profeet en sakeman Shepherd Bushiri betrokke is. Die hof het pogings om vervolging te verhoed van die hand gewys en vertragings gekritiseer. Die NVG het die gebruik van doelbewuste vertraging veroordeel en sê dit ondermyn geregtigheid, maar dring aan hulle is steeds verbind tot ‘n billike en tydige verhoor.
# Die verpleegorganisasie Denosa sê sy lede sal deelneem aan die vakbondfederasie Cosatu se Werkersdag-herdenkings om swak werksomstandighede in die openbare gesondheidsorgsektor te beklemtoon. Die organisasie doen ook ‘n beroep op die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering om toegang tot gehalte-gesondheidsorg te verbeter. Sibongiseni Delihlazo van Denosa het kommer uitgespreek oor die stygende koste van mediesefondstariewe vir staatsamptenare, sowel as voortdurende uitdagings in die sektor, wat werkers en dienslewering beïnvloed:
# Iran het Donderdag gesê hy sal met lang en pynlike aanvalle op Amerikaanse posisies reageer as Washington die aanvalle hervat. Hy het ook sy beheer oor die Straat van Hormoes herbevestig en bemoeilik Amerikaanse planne vir ‘n koalisie om die waterweg te heropen. Twee maande sedert die begin van die VSA-Israeliese oorlog met Iran is pogings om die konflik op te los, op ‘n dooiepunt. Volgens Reuters sou president Donald Trump gister ingelig word oor ‘n reeks nuwe militêre aanvalle op Iran. Die nuus het groot stygings in oliepryse veroorsaak, met Brent-ruolie wat by tye tot meer as 126-dollar per vat gestyg het.
# En om mee af te sluit, rugby: Die Junior Springbokke speel Sondag teen Australië in die tweede ronde van die Onder-20 Rugbykampioenskap, wat in Gqeberha in die Oos-Kaap plaasvind. In die ander wedstryd by die Nelson Mandelabaai-stadion sal die Baby Blacks teen Argentinië se juniors speel. Suid-Afrika het die jong Pumas in die eerste ronde kaf gedraf en met 48-21 gewen, terwyl Nieu-Seeland van agter af teruggeveg het om die jong Wallabies met 34-29 te klop. Die Baby Blacks het die vorige toernooie albei gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….