Nuus 18:00
BULLETIN 30 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sterk groei in die toerisme-sektor duur voort in 2026
# Die Forum for South Africa veroordeel Posbank se besluit om hul bankdienste by die Suid-Afrikaanse Poskantoor te beëindig
# En, padwedlope, langafstandatlete gaan in Junie die kortste Comrades in jare aflê
# Die Departement van Toerisme sê Suid-Afrika se toerismesektor se opwaartse trajek duur voort, met ‘n toename van 12,5- persent in internasionale aankomste vergeleke met 2025. Van Januarie tot Maart het meer as 2,9-miljoen reisigers die land binnegekom. Volgens Statistiek Suid-Afrika het die sektor in 2024 byna 954-duisend regstreekse werksgeleenthede ondersteun. Woordvoerder Adrian Simpear sê minister Patricia de Lille verwelkom die groei en sterk vennootskap tussen die openbare en privaat sektor:
# Die Forum for South Africa veroordeel die Posbank se besluit om kontantinbetaling- en onttrekkingsdienste by Poskantoor-takke te staak. Klante met spaarrekeninge by die Posbank het van môre af toegang tot inbetalings- en onttrekkingsdienste by Standard Bank en kleinhandelaars. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê dié roekelose besluit is ‘n aanslag op armes, bejaardes en miljoene Suid-Afrikaners wat afhanklik is van toeganklike, gemeenskapsgebaseerde bankdienste:
# Die Polisie- en Gevangenisse-burgerregte-unie vra ‘n omvattende hersiening van veiligheidsmaatreëls in korrektiewe sentrums. Dit volg op die inhegtenisneming van ses korrektiewe beamptes in die De Aar-gevangenis in die Noord-Kaap in verband met die moord op ‘n gevangene, nadat hul kollega aangeval is. POPCRU se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê hierdie voorval lê die gevare bloot wat korrektiewe beamptes trotseer wanneer bende-bedrywighede tronke teister:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Britse kenners ontstel oor sy bewering dat koning Charles privaat met hom saamgestem het oor Iran se kernambisies. Trump het tydens ‘n staatsdinee vir die Britse koninklikes gesê die koning stem saam Iran moet nooit ‘n kernwapen hê nie. Hierdie openbare bekendmaking is as ‘n beduidende skending van koninklike protokol beskou. Privaat gesprekke met die monarg word tradisioneel vertroulik gehou om politieke neutraliteit te verseker. Buckingham-paleis sê in ‘n verklaring Charles is bewus van sy regering se langdurige standpunt oor die voorkoming van kern-uitbreiding.
# Padwedlope: Atlete sal ‘n afstand van 85,7-kilometer moet aflê in vanjaar se Comrades-marathon, wat dit die kortste wedloop in jare maak. Die organiseerders het die afstand bevestig vir die 99ste weergawe van die ikoniese wedloop, wat op 14 Junie van Durban na Pietermaritzburg plaasvind. Dit sal 133-meter korter wees as die vorige kortste op-wedloop in 2024. Wedloop-direkteur Sue Forge sê die effense verkorte afstand is hoofsaaklik weens roete-aanpassings te midde van voortgesette padwerke. Altesaam 22-duisend atlete mag deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-507-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-622-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 108-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….