Nuus 17:00
BULLETIN 30 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra vir hervorming om plaaslike ekonomiese groei te bevorder
# Action Society gryp in na ‘n kindermishandelingsaak tussen provinsies tot stilstand kom
# En, die Verenigde Nasies se kernwaghond sê Iran het genoeg verrykte uraan vir tien kernbomme
# President Cyril Ramaphosa het munisipaliteite gevra om dienslewering te lei om ekonomiese groei te ondersteun. Hy het op die Uitgebreide Presidensiële Koördineringsraads-vergadering gevra vir minder rompslomp om beleggings te lok en entrepreneurs te ondersteun. Ramaphosa beklemtoon ‘n behoefte om plaaslike regering te versterk met meriete-gegronde aanstellings, verantwoordbaarheid en verbeterde vaardighede. Hy sê projekte soos Operasie Vulindlela sal help om munisipaliteite as dryfvere van ontwikkeling en inklusiewe ekonomiese groei te versterk:
# Action Society het ingegryp nadat die familie van ‘n agtjarige meisie dit versoek het nadat haar ma en haar lewensmaat na bewering die kind seksueel voorberei en mishandel het. Die saak sloer sedert 2024 tussen provinsies. Woordvoerder Juanita du Preez sê daar is vertragings en wankommunikasie tussen die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die owerhede vir Maatskaplike Ontwikkeling. Sy sê ondanks herhaalde opvolgwerk is niemand nog aangekla nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare loof die regering wat beslissend opgetree het om gewone Suid-Afrikaners te beskerm teen die ergste uitwerking van die stygende brandstofkoste. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die tydelike brandstofheffing-verligting van drie-rand per liter vir petrol en 3,93-rand vir diesel tot 2 Junie verleng. Die vakbondwoordvoerder, Claude Naicker, sê die huidige ekonomiese klimaat vereis volgehoue, mens-gesentreerde ingryping om werkers teen eksterne ekonomiese skokke buite hul beheer te beskerm:
# Die hoof van die Verenigde Nasies se kernagentskap sê die meerderheid van Iran se hoogs-verrykte uraan is vermoedelik steeds in sy kernaanleg by Isfahan. Die Internasionale Atoomenergie-agentskap se direkteur-generaal, Rafael Grossi, het in ‘n onderhoud gesê ‘n beduidende deel van die verrykte uraan is daar geberg toe die 12-daagse oorlog in Junie 2025 uitgebreek het, en behoort steeds daar te wees. Hy glo die land het genoeg verrykte uraan om tien kernbomme te maak, maar voeg by hulle kon sedertdien nie inspeksie doen om dit te bevestig nie.
# Motorsport: Die jongste kampioenskapsvoorloper ooit in Formule Een, die Italiaanse tiener Kimi Antonelli, gaan die naweek probeer om ‘n driekuns te behaal in die Grand Prix in Miami. F1 keer na ‘n maand terug nadat die wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië weens die Midde-Oosterse konflik gekanselleer is. Antonelli is nege punte voor sy Mercedes-spanmaat, die Brit George Russell, boaan die bestuurderskampioenskap na die seisoen se eerste drie wedrenne. Mercedes kon nog nie in Miami wen sedert dit vyf jaar gelede daar van stapel gestuur is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-301-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-636-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….