Nuus 13:00
BULLETIN 30 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen verdiep die biosekerheids-alliansie met Argentinië om bek-en-klouseer te beveg
# Brittanje word gevra om meer teen-terreur-moniteringstegnieke te gebruik om anti-semitiese aanvalle teen te werk
# En krieket: Die Protea-draaibouler Keshav Maharaj sluit aan by Mumbai Indians in die IPL
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het sleutelooreenkomste met Argentinië gesluit wat daarop gemik is om Suid-Afrika se reaksie op bek-en-klouseer te versterk en die toekoms van die veesektor te beskerm. Suid-Afrika het reeds 2,5-miljoen dosisse entstowwe ontvang en versprei. Steenhuisen het tydens ‘n werksbesoek gesê daar moet onmiddelik ‘n bestendige en voldoende entstofpyplyn verseker word. Hy beklemtoon die doel is om ‘n veerkragtige dieregesondheidstelsel te bou wat nie net die huidige uitbreking kan bestuur nie, maar ook toekomstige krisisse kan voorkom.
Die Wes-Kaapse premier se Koördineringsforum sê intussen die provinsie maak goeie vordering met die beheer van die siekte. Geen nuwe gevalle is in die afgelope 39 dae in die provinsie aangemeld nie. Dit dui daarop dat die uitbreking nou bestendig is. Altesaam 164-duisend-425 inentings is reeds op 756 plekke in die provinsie gedoen. Premier Alan Winde sê inentings bly noodsaaklik in die provinsie se beheerstrategie:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het oranje vlak 6- en 4-waarskuwings uitgereik vir dele van die Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat die langnaweek. Swaar reënval van tot 90-millimeter word binne 24-uur verwag, saam met sterk, skadelike wind en die moontlikheid van oorstromings. Die Weerdiens se woordvoerder, Tokelo Chiloane, sê diegene in die binneland moet ook op hulle hoede wees. Inwoners word versoek om voorsorgmaatreëls te tref in reeds nat gebiede, met baie koue toestande wat verwag word.
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse skaduminister van Binnelandse Sake, Chris Philp, vra groter gebruik van teen-terreur-moniteringstegnieke om anti-semitiese misdaad te identifiseer en te voorkom. Dit volg nadat twee Joodse mans gister in Golders Green, Noord-Londen, gesteek is in wat die polisie as ‘n terroriste-voorval beskryf het. ‘n Vyf-en-veertigjarige Britse burger wat in Somalië gebore is, is in hegtenis geneem. Philp sê die Verenigde Koninkryk voer anti-semitisme in deur immigrasie:
# Krieket: Die Protea-draaibouler, Keshav Maharaj, het by die Indiese Premierliga-span Mumbai Indians aangesluit as plaasvervanger vir die beseerde Nieu-Seelander Mitchell Santner. Die 36-jarige Maharaj het nie enige aanbiedings ontvang op vanjaar se IPL-veiling nie nadat hy voorheen vir Rajasthan Royals gespeel het, en sedert verlede jaar vir Pretoria Capitals in die SA20. Hy het 31 paaltjies geneem in sy laaste 30 T20-wedstryde. Mumbai is verheug om Maharaj te verwelkom, want sy ervaring maak hom presies die soort speler waarop die span floreer. Hulle is tans negende op die punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-46-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-619-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 111-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….