Nuus 11:00
BULLETIN 30 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oliepryse klim tot die hoogste vlakke sedert 2022 terwyl Trump oorweeg om die Iranse versperring te verleng
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge vra ‘n professionele Staatsdiens om ekonomiese groei te ondersteun
# En sokker: Afganistan se vrouespan keer terug na internasionale deelname
# Oliepryse het weer die hoogte ingeskiet na berigte dat die Amerikaanse president, Donald Trump, oorweeg om die versperring van Iranse hawens te verleng. Brent-ruolie se prys het in daaglikse verhandeling met byna sewe-persent geklim tot 126-dollar per vat – die hoogste sedert Rusland se inval in Oekraïne in 2022. Amerika beplan glo ‘n vlaag kort, kragtige aanvalle op Iran indien die dooiepunt in onderhandelinge voortduur. Trump sê die versperring is effens doeltreffender as bomaanvalle:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika se swak Staatsdiens belemmer ekonomiese groei en benodig dringende hervorming. Die organisasie voer aan politieke inmenging en kaderontplooiing het sedert 1994 die staat se vermoë ondermyn om dienste te lewer, doeltreffendheid verminder en die ekonomie geskaad. Terence Corrigan van die instituut sê ‘n hervormde Staatsdiens is noodsaaklik om vinniger ekonomiese groei te ondersteun en die land se maatskaplike en ekonomiese uitdagings aan te pak.
# Die DA steun die veiligheidshervorming van Suid-Afrikaanse grense terwyl dit handel en ekonomiese groei bevorder. Meer as 600-duisend mense is onlangs uit die land gesit omdat hulle probeer het om die land onwettig binne te kom of reeds onwettig in die land was. Adrian Roos van die DA sê doeltreffende grense is nie net ʼn vereiste vir veiligheid nie, maar ook ʼn ekonomiese noodsaaklikheid. Hy sê vertragings by grensposte kos Suid-Afrika miljarde aan handelsverliese en laer mededingendheid:
# Die vakverbond Cosatu verwelkom die Posbank se belegging van meer as 500-miljoen-rand oor die afgelope drie jaar in tegnologie en infrastruktuur. Kliënte van die Posbank wat takke van die Poskantoor gebruik vir toegang tot hul rekeninge sal nou nuwe en uitgebreide bankkanale hê. Dit sluit in deposito- en onttrekkingsdienste deur Standard Bank en handelaars. Matthew Parks van Cosatu sê kliënte het nou toegang tot meer betroubare bankdienste:
# Sokker: Afganistan se vrouespan word toegelaat om terug te keer na internasionale deelname nadat hulle vyf jaar laas amptelik gespeel het. Beperkings is op vroueregte ingestel nadat die Taliban in 2021 weer die bewind oorgeneem het, insluitend ‘n verbod op sport. Dit het baie vroue gedwing om die land te verlaat. Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het Afganistan amptelik erken ingevolge ‘n wysiging wat die registrasie van ‘n verteenwoordigende span onder uitsonderlike omstandighede toelaat, indien dit nie deur sy lidvereniging erken word nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-725-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-590-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie in maandelikse voortuitskatting is 111-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….