Nuus 08:00
BULLETIN 30 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika ondersteun die reg van nasies om die vreedsame gebruik van kernenergie na te streef
# Top Suid-Afrikaanse regsfirmas betwis die Swart Ekonomiese Bemagtiging Regsektorkode
# En AfriForum dien ‘n strafregtelike klag in teen die voormalige burgemeester van Johannesburg, Thapelo Amad
# Suid-Afrika sê hy bly verbind tot die vestiging en instandhouding van ‘n wêreld sonder kernwapens. Die land neem deel aan die 11de hersieningskonferensie van die Sperverdrag oor Kernwapens by die Verenigde Nasies in New York. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se verteenwoordiger, Xolisa Mabhongo, sê Suid-Afrika wil die instelling van die drie onderling afhanklike pilare van die nie-verspreiding van kernwapens, insluitend die vreedsame gebruik van kernenergie, versterk en bevorder:
# Drie van Suid-Afrika se grootste regsondernemings, Bowmans, Webber Wentzel en Werksmans, gaan volgende week die Swart Ekonomiese Bemagtiging Regssektorkode in die Hooggeregshof in Gauteng teenstaan. Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het die kode in September 2024 uitgegee om die erfenis van ongeregtighede in die regsberoep onder apartheid aan te spreek. Die ondernemings voer aan die huidige kode word misverstaan en die gevaar bestaan dat dit betekenisvolle en algemene verandering in die regsberoep ondermyn eerder as hervorm.
# AfriForum het ‘n strafregtelike klag by die polisie ingedien teen die voormalige burgemeester van Johannesburg, Thapelo Amad, oor beweerde onwettige vuurwapengebruik. Dit volg na ‘n wydverspreide video vroeër vandeesmaand wat ‘n man wys wat skote in die lug afvuur by ‘n begrafnis in Soweto. Jacques Broodryk van AfriForum sê die voorval mag die Wet op Vuurwapenbeheer oortree en doen ‘n beroep op ‘n volledige ondersoek en moontlike aanklagte, insluitend die onwettige besit en roekelose afvuur van ‘n vuurwapen:
# Amerika se Federale Reserwe het besluit om die derde keer vanjaar rentekoerse onveranderd op 3,5- tot 3,75-persent te hou. Die sentrale bank hou rentekoerse bestendig, en skryf dit toe aan onsekerheid oor die Trump-administrasie se beleid en die konflik in die Midde-Ooste. President Trump het herhaaldelik ʼn beroep op die Federale Reserwe gedoen om rentekoerse te verlaag. Die FED-voorsitter, Jerome Powell, sê hy glo die sentrale bank se vermoë om sonder politieke druk oor monetêre beleid te besluit, is in gevaar:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is die eerste keer deur na die Madrid Ope se halfeindronde en sit sy poging vir ʼn vyfde ATP Meesters 1000-titel voort. Die Italianer het die 19-jarige Spanjaard, Rafael Jodar, geklop. Sinner kom nou teen die Fransman, Arthur Fils, te staan wat met die Tsjeg, Jiri Lehecka, afgereken het. In die vroue-afdeling het die Russies-gebore Oostenryker, Anastasia Potapova, die Tsjeg Karolina Pliskova verslaan en die eerste gelukkige verloorder geword om WTA 1000-halfeindronde te haal. Sy kom teen Marta Kostyuk van Oekraïne te staan nadat sy nog ʼn Tsjeg, Linda Noskova, verpletter het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-838-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-563-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….