Nuus 16:00
BULLETIN 29 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mugabe se seun word beboet met 600-duisend-rand en gaan onmiddellik gedeporteer word
# Johannesburg benodig miljarde rand om waterstelsels te herstel
# En sokker: FIFA verhoog kontantbetalings aan Wêreldbeker-lande tot 14,4-miljard-rand
# Die Landdroshof in Alexandra, Gauteng, het die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine, gevonnis tot ‘n boete van 600-duisend-rand of tronkstraf. Hy het skuldig gepleit aan die rig van ‘n vuurwapen en die oortreding van immigrasiewette ná ‘n skietvoorval in sy woning in Hydepark, Johannesburg. Die gewonde werknemer is 400-duisend-rand se skadevergoeding betaal. Landdros Renier Boshoff het Mugabe se onmiddellike deportasie gelas:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê die stad samel tot 13-miljard-rand in om verouderende water- en rioolinfrastruktuur op te knap. Hy het tydens die bekendstelling van ‘n nuwe grondreservoir en watertoring in Brixton beklemtoon die plan sluit in die vervanging van duisende kilometer pype. Sewe-miljard-rand is nodig vir water en ses-miljard-rand vir rioolstelsels. Morero sê die stad betrek finansiële instellings om bykomende befondsing te bekom:
# Posbank sê sy kliënte sal vanaf Vrydag nie meer toegang tot bankdienste hê in takke van die Suid-Afrikaanse Poskantoor nie. Hulle moet nou Standard Bank-kitsbanke, takke en deelnemende kleinhandelaars gebruik, terwyl ondersteuning ook beskikbaar sal wees deur sy kontaksentrum. Thami Cele van die Posbank verseker begunstigdes van SASSA-toelaes hulle sal nie geraak word nie en sal soos gewoonlik hul betalings ontvang:
# Sokker: Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het ‘n verhoging aangekondig in kontantbetalings aan die 48 lande wat aan vanjaar se Wêreldbekertoernooi deelneem – van net meer as 12-miljard- tot 14,4 miljard-rand. Dit volg na verskeie FIFA-lede glo gesê het die hoë koste van reis, belasting en algehele bedrywighede kan tot verliese lei. Elk van die 48 spanne sal nou 41,4-miljoen-rand vir voorbereidingskoste ontvang, terwyl hul kwalifiseringsbonus nou tot 165-miljoen-rand elk verhoog sal word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-124-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-559-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte: Inskrywings het amptelik geopen vir Mej Suid-Afrika 2026, en sluit op 17 Mei. Die organiseerders sê die kompetisie beweeg na ‘n nuwe fase gefokus op leierskap, diens en maatskaplike invloed eerder as net die kroon. Deelnemers sal ‘n gestruktureerde ontwikkelingsprogram ondergaan om leierskaps-vaardighede, kommunikasie en gemeenskaps-betrokkenheid aan te leer. Aansoekers moet Suid-Afrikaanse vroue van tussen 20 en 32 wees wat gereed is vir mentorskap en toerekenbaarheid, en wat ‘n maatskaplike bydrae wil lewer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….