Nuus 15:00
BULLETIN 29 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Professor sê Suid-Afrika kan die brandstofprysskok aanpak sonder om fiskale geloofwaardigheid te verloor
# Die African Peoples Convention vra ‘n verskuiwing van grondbesit na ekonomiese ontwikkeling
# En krieket: Rajasthan Royals se kaptein kan gestraf word vir damprook in Indië
# Professor Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit sê Suid-Afrika kan die wêreldwye brandstofprysskok bestuur sonder om fiskale geloofwaardigheid te verloor. Hy voer aan geteikende verligtingsmaatreëls, ondersteun deur inkomste- en bestedingshersienings wat hoër as verwag was, kan huishoudings beskerm en openbare finansies bestendig hou. Parsons waarsku wêreldwye olie-wisselvalligheid sal aanhoudend druk op brandstofpryse plaas, maar sê versigtige beleidskeuses kan beleggersvertroue handhaaf en die uitwerking van inflasie op die ekonomie beperk:
# Die African Peoples Convention sê Gemeenskaplike Eiendomsverenigings kan nie ekonomiese voordele lewer nie, al beheer hul miljoene hektaar grond. Swak bestuur, ‘n gebrek aan toegang tot befondsing, swak sakevermoë en onduidelike belastingreëls is genoem. Woordvoerder Themba Godi vra dringende hervormings, insluitend ‘n toegewyde ondersteuningsagentskap, die insluiting van die finansiële sektor en bekwame leierskap. Hy sê grondhervorming moet voortbeweeg van eienaarskap na betekenisvolle ekonomiese ontwikkeling en werkskepping:
# Sakeliga verwelkom gister se uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria wat streng sperdatums stel vir die regering se bek-en-klouseer-entstofplan. Anton Meijer van die organisasie sê die uitspraak versterk boere se regsuitdaging en plaas druk op die regering om privaat entstofmaatreëls toe te laat en siektebeheer dringend te verbeter:
# ActionSA het Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, gewaarsku oor ‘n dreigende watersuiweringskrisis. Die organisasie se Gautengse woordvoerder vir Omgewingsake, John Moodey, sê meer as die helfte van die stelsels verkeer onder erge druk, met baie wat hul vermoë oorskry en besoedelde water stort. Die party beraam dat 2,14-miljard-rand dringend nodig is vir herstelwerk weens opsetlike beskadiging, beurtkrag en swak onderhoud. Moodey vra onmiddellike oudits, die herbelyning van befondsing en sterker aanspreeklikheid om omgewings- en ekonomiese gevolge in die waterinfrastruktuur te voorkom.
# Krieket: Die Indiese Premierliga kan dalk tugstappe doen teen Rajasthan Royals se kaptein, Riyan Parag, nadat foto’s van hom wat in die kleedkamer ‘n e-sigaret rook, op sosiale media versprei is. E-sigarette is in 2019 in Indië verbied, en oortredings kan tot swaar boetes of tronkstraf lei. Parag sukkel om dié seisoen aan die gang te kom en het tot dusver slegs 117 lopies in nege wedstryde aangeteken. Indië se beheerliggaam, die BCCI, kan hom volgens berigte beboet vir die oortreding van IPL-reëls en die stel van ‘n swak voorbeeld.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-505-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-568-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….