Nuus 12:00
BULLETIN 29 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê die handboektenderskandaal van R1,6-miljard dui op ‘n tekortkoming in goeie bestuur
# Die gewese direkteur van die FBI word aangekla oor ‘n beweerde dreigement teen Trump
# En sokker: Sundowns se afrigter is bekommerd oor ‘n besige program wat kan lei tot beserings van sy Bafana-spelers
# Die ANC is bekommerd oor die handboektender van 1,6-miljard-rand vir die publikasie van handboeke vir Graad 1 tot 3. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, formeel versoek om ‘n ondersoek te open na beweerde onreëlmatighede met die verkrygingsproses. Lighthouse Publishers is meer as ‘n kwart van die tender toegeken, al is dit blykbaar eers geregistreer enkele dae na die formele bekendstelling van die kontrakvereistes. Die ANC sê hierdie bewerings dui op ‘n kommerwekkende mislukking in bestuur, verkryging, integriteit en aanspreeklikheid.
Die party sê ook die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, moet in die Parlement rekenskap gee oor die nasionale konsepbeleid oor kunsmatige intelligensie. Malatasi het die beleid onttrek nadat ontdek is ses bronne wat aangehaal word, bestaan nie. Interne ondersoeke het daarna bevestig dat aanhalings wat met kunsmatige intelligensie geskep is in die dokument voorkom. Woordvoerder Hlengiwe Hadebe sê die ANC beskou die voorval as een van die kommerwekkendste mislukkings in ministeriële oorsig en intellektuele nougesetheid in die onlangse geskiedenis van Suid-Afrika se digitale bestuur.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die bedanking van twee raadslede van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente aanvaar. Die tussentydse raadsvoorsitter, Mugwena Maluleke, het weens persoonlike en akademiese verpligtinge bedank. Karabo Mohale was voorsitter van die ontwikkelingskomitee vir Menslike Hulpbronne en Organisasie. Manamela se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê hierdie en ander bedankings verminder die aantal oorblywende stemgeregtigde lede:
Nuus uit die buiteland:
# Die voormalige direkteur van die FBI, James Comey, word aangekla oor ‘n sosiale media-plasing wat vertolk word as ‘n dreigement teen die Amerikaanse president, Donald Trump. Die Instagram-plasing van Mei 2025 toon seeskulpe op ‘n strand in Noord-Carolina wat die syfers “86-47” vorm. Ses-en-tagtig is informele taal vir “uithaal” of “verwyder”. Waarnemende prokureur-generaal Todd Blanche sê die dreigement teen die president se lewe is ‘n ernstige oortreding van Amerikaanse wette:
# Sokker: Mamelodi Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, is bekommerd sy span se besige skedule kan daartoe lei dat sleutelspelers van Bafana Bafana beserings kan opdoen voor die Wêreldbekertoernooi. Hy het voorheen die Premierliga gevra om plaaslike wedstryde uit te stel sodat Sundowns meer tyd kan kry om voor te berei vir volgende maand se Afrika-Kampioeneliga se eindstryde teen Royal Armed Forces van Marokko. Die span speel vier PSL-wedstryde voor hierdie kragmetings. Elf van Sundowns se spelers word as moontlike keuses vir die Wêreldbekergroep beskou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-102-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-566-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….