Nuus 08:00
BULLETIN 29 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre ad hoc-komitee vra verdere uitstel
# Die Redakteursforum stel ‘n regspan aan om die bewerings teen sy voorsitter te ondersoek
# En koning Charles lewer ‘n geskiedkundige toespraak voor die Amerikaanse Kongres
# Die Parlement se ad hoc-komitee wat bewerings ondersoek deur die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, vra vir verdere uitstel. Die termyn vir die afhandeling van sy werk is reeds vier keer uitgestel en sou Donderdag verstryk. Die komitee het gister oor huishoudelike sake vergader, insluitend die inhandiging van die konsepverslag oor sy werk tot dusver. Die getuienisleier, Norman Arendse, het aan die komitee gesê hulle het ‘n oponthoud ondervind met die transkripsies van die getuienis wat aangebied is, en daarom kon hulle nie die konsepverslag afhandel nie:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum het besluit om ‘n onafhanklike regspan aan te stel om bewyse teen sy voorsitter en Sunday Times-redakteur, Makhudu Sefara, te ondersoek. Hy word in ʼn Spesiale Ondersoekeenheid-verslag betrek by ʼn vermeende oortreding wat met die Nasionale Loterykommissie verband hou. Todi Media Development het 1,5-miljoen-rand vir ʼn projek ontvang wat bedoel was vir joernaliste se verblyf, gehuurde voertuie en bemarking. Sefara het na bewering 550-duisend-rand van die bedrag ontvang. Die forum sê Sefara het, hangende die ondersoek, opsy gestaan as voorsitter.
# Die ANC-bondgenoot en sakeman Suleiman Carrim sal waarskynlik nie voor die Madlanga-kommissie verskyn nie weens swak gesondheid. Carrim, wat vandag sou getuig, is onlangs in die hospitaal opgeneem na ‘n vermoedelike hartaanval wat moontlik tot nog vertragings kan lei. Die kommissie se getuienisleier, Matthew Chaskalson, sê die verhoordatum bly onderhewig aan verandering afhangende van sy herstel:
# Koning Charles die Derde het gister ʼn geskiedkundige toespraak voor die Amerikaanse Kongres gelewer. Hy het die belangrikheid van die verhouding tussen die Verenigde Koninkryk en Amerika beklemtoon, diversiteit en vrede aangemoedig en multilaterale instellings geloof. Dit was die eerste koninklike toespraak voor die Kongres sedert dié van koningin Elizabeth die Tweede in 1991. Die Britse monarg het aan wetgewers gesê die Brittanje-VSA-alliansie moet voortgaan om gedeelde waardes te verdedig met bondgenote in Europa, die Statebond en die res van die wêreld, en die wekroep ignoreer om meer na binne te kyk:
# Tennis: Die 24-jarige Amerikaner Hailey Baptiste het ʼn loopbaan-hoogtepunt by die Madrid Ope beleef toe sy die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, verslaan het om die eerste keer die halfeindronde te haal. Baptiste takel nou die negende gekeurde Rus, Mirra Andreeva, wat die Kanadees Leylah Fernandez geklop het om haar eerste halfeindronde in Madrid te bereik. In die mansafdeling het die Duitser, Alexander Zverev, met die Tsjeg Jakub Mensik afgereken om die kwarteindronde te haal terwyl Flavio Cobolli van Italië die Rus, Daniil Medvedev, uitgeskakel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend–792-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-601-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….