Nuus 18:00
BULLETIN 28 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom die onttrekking van die KI-beleidsdokument as gevolg van fiktiewe bronne in die verwysings
# Gauteng se LUR vir Onderwys Lebogang Maile sê die provinsie het nog 200 skole nodig om oorvol klaskamers te verlig
# En, Nieu-Seeland staak die oprigting van ‘n standbeeld vir Tweede Wêreldoorlog-seksslawe ná besware deur Japan
# Die vakbondfederasie Cosatu het die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, se besluit verwelkom om die konsepbeleidsdokument oor Kunsmatige Intelligensie te onttrek. Volgens die minister het ‘n ondersoek bevestig dat die dokument verskeie fiktiewe bronne in sy verwysingslys bevat, wat die integriteit en geloofwaardigheid van die dokument onder verdenking plaas. Matthew Parks van Cosatu sê hy is bekommerd dat die dokument nie intern deeglik gekontrolleer is nie:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, het in die provinsiale wetgewer gesê die provinsie ondervind ernstige oorbevolking in skole. Dit word aangevuur deur ‘n skerp toename in inskrywings wat verband hou met migrasie en verstedeliking. Maile waarsku dat meer as ‘n duisend skole oorvol is, met ‘n tekort van minstens 200 nuwe skole. Hy sê dringende optrede is nodig om billike toegang tot gehalte-onderwys in die provinsie te verseker:
# Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens het Suid-Afrika se eerste Nasionale Diabetes-paneelbord bekendgestel, in vennootskap met die Gautengse Gesondheidsdepartement, Nasionale Voorkeurprogramme en Wits se sentrum vir diagnostiese vernuwing. Die stelsel verskaf onmiddelike nasionale data oor diabetes-beheer, wat binne 48-uur bygewerk word om vinniger identifisering van hoëgevaar-pasiënte en verbeterde kliniese reaksie moontlik te maak. Die uitvoerende hoof van die laboratorium, Koleka Mlisana, sê die platform verskuif verslagdoening na onmiddelike reaksie, wat besluitneming versterk en pasiënte se gesondheids-uitkomste verbeter.
# Planne is verwerp om ‘n standbeeld in ‘n openbare tuin in Auckland, Nieu-Seeland, op te rig wat die sogenaamde troosvroue simboliseer wat tydens die Tweede Wêreldoorlog deur Japan tot seksuele slawerny gedwing is. Die Japannese ambassade het gewaarsku die oprigting van die bronsbeeld van ‘n meisie wat langs ‘n leë stoel sit, kan diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande aansienlik beïnvloed. Meer as 200-duisend vroue en meisies, hoofsaaklik uit Korea, is tydens die oorlog tot prostitusie gedwing om Japannese soldate te dien.
# Padwedlope: Die Londen-marathonrekordhouer, Sabastian Sawe, het bewerings verwerp dat sy hardloopskoene hom ‘n onregverdige voordeel gegee het nadat hy die marathon in minder as twee ure voltooi het. Sawe het ‘n geskiedkundige een-uur-59-minute-30-sekondes aangeteken en die eerste atleet geword wat hierdie prestasie in ‘n amptelike wedloop behaal het. Sawe hou vol die skoene is goedgekeur deur Wêreldatletiek. Hy het ook verskeie opkikkertoetse ondergaan om te bewys dat elite-atlete regverdig kan meeding en nuwe rekords kan opstel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-117-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-568-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….