Nuus 17:00
BULLETIN 28 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vereniging van Staatsamptenare beklemtoon stres en personeeltekorte op Wêrelddag vir Veiligheid en Gesondheid in die Werkplek
# ActionSA dring aan op ‘n ondersoek na onreëlmatighede in ‘n 285-miljoen-rand handboektender
# En, Kaapstad versterk toesig met 6,8-miljard-rand vir misdaadbestryding
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra sterker maatreëls om die fisiese veiligheid en maatskaplike welstand van staatsamptenare te beskerm. Claude Naicker van die vakbond waarsku oormatige werkslading, lang ure en swak ondersteuningstelsels is beroepsgevare wat bydra tot stres, werksuitputting en afwesigheid. Hy vra werkgewers om regverdige praktyke, ondersteunende leierskap, veilige werkplekke en dringende optrede rondom personeeltekorte in te stel:
# ActionSA eis ‘n dringende ondersoek na beweerde onreëlmatighede in ‘n handboektender van 285-miljoen-rand vir die Departement van Basiese Onderwys. Mathew George van die party sê die kontrak is toegeken aan ‘n maatskappy in Kaapstad wat geregistreer is drie dae nadat die tenderspesifikasies uitgereik is. Dit wek kommer oor moontlike tendermanipulasie. Die party doen ‘n beroep op die departement en die Nasionale Tesourie om dringend die wettigheid en deursigtigheid van die toekenning te verifieer:
# Die Stad Kaapstad het ‘n veiligheidsplan van 6,8-miljard-rand bekendgestel wat fokus op gevorderde toesigtegnologie om misdaad te bekamp. Volgens News24 sal die strategie geslote kringtelevisie-dekking uitbrei en hommeltuie in hoë-risikogebiede ontplooi. Amptenare sê die projek is daarop gemik om onmiddellike monitering te verbeter, reaksietye te versnel en wetstoepassingskapasiteit te versterk. Owerhede glo die belegging sal veiligheid verbeter, misdaad verminder en pogings ondersteun om veiligheid in die stad te bevorder.
# Japan Airlines sal vanaf volgende maand mensagtige robotte as grondpersoneel begin gebruik op die Haneda-lughawe in Tokio in ‘n tweejaar-proefneming wat ten doel het om werknemers se werklas te verlig. Die Chineesvervaardigde robotte sal aangewend word om vraghouers te laai en af te laai. Die lugredery hoop die robotte sal in die toekoms ook gebruik kan word om kajuite skoon te maak en grondondersteuningstoerusting te bedryf. Die lugredery sê die gebruik van robotte vir fisies-veeleisende take sal beduidende voordele vir werknemers inhou, hoewel sommige take, insluitend veiligheidsbestuur, slegs deur mense hanteer kan word.
# Gholf: Die 156ste Britse Ope sal in 2028 op die Royal Lytham- en St Annes-gholfklub in Engeland aangebied word. Dit word die eerste keer daar gespeel sedert 2012, toe Ernie Els dit ‘n tweede keer gewen het. Vanjaar se Ope sal op Royal Birkdale aangebied word, terwyl dit volgende jaar na St Andrews in Skotland terugkeer. R&A se uitvoerende hoof, Mark Darbon, sê aansienlike opknappingswerk is by Royal Lytham gedoen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-116-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-577-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-52-sent per vat.
# Bly ingeskakel vir meer nuus…………..