Nuus 14:00
BULLETIN 28 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Borgtog word toegestaan aan Mkhwanazi en Lerutla in hul korrupsiesaak
# Allan Boesak vra verantwoordbaarheid te midde van korrupsie onder openbare amptenare
# En rugby: Drie Suid-Afrikaanse spanne kan nog tuis-kwarteindstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap beklink
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en stadsbestuurder Kagiso Lerutla is op borgtog vrygelaat in die Landdroshof in Boksburg, Gauteng. Hulle word aangekla van bedrog, korrupsie en regsverydeling oor ‘n beweerde komplot in 2019 om ‘n derde party te huur om hom as Lerutla voor te doen in ‘n verkeersoortredingsaak. Landdros Emmanuel Magampa het die saak tot 13 Mei uitgestel en gelas hulle moet hul paspoorte indien:
# Die anti-apartheidsaktivis, Allan Boesak, sê misdaad, armoede, korrupsie en ongelykheid benadeel steeds baie Suid-Afrikaners. Hy het tydens die bekendstelling van die “Nuwe Vryheidsveldtog” in die St George-katedraal in Kaapstad, die groeiende gaping tussen ryk en arm uitgelig en dit ‘n morele krisis genoem. Boesak kritiseer beweerde korrupsie onder openbare amptenare en vra dringende verantwoordbaarheid:
# Die Padverkeersbestuurskorporasie sê byna 80 motoriste is die naweek landwyd aangekeer vir omkopery en korrupsie. Dit is deel van die verlengde Paasfees-padveiligheidsveldtog wat verlede maand begin het. Die korporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê omkopery en korrupsie in die verkeersektor is ‘n groot bron van kommer en moontlik ‘n belangrike faktor agter die kultuur van straffeloosheid wat motoriste toon:
# Openbare kommentaar op ‘n konsepvoorstel vir die hersiening van Suid-Afrika se valutabeheerwetgewing, kan tot 17 Mei by die Nasionale Tesourie ingedien word. Die Ministerie van Finansies se voorstelle sluit in die verhoging van die diskresionêre buitelandse toelae vir individue, die regulering van kripto-bates en die verslapping van kapitaalvloei-beperkings. Die JSE raam die veranderings kan in die langtermyn minstens tien-duisend-miljard-rand se beleggings lok. ‘n Sleuteldoelwit van die hersiening is om die langdurige strukturele probleme reg te stel wat gelei het tot die verlies van kapitaal aan mededingers.
# Rugby: Die Stormers, die Leeus en die Bulle kan nog almal tuis-kwarteindstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap beklink. Die Stormers is tans boaan die punteleer na hulle Glasgow Warriors Saterdag in Kaapstad verpletter het. Die Leeus het tot derde plek opgeskuif na die oorwinning oor Connacht in Johannesburg. Die Bulle is tans sesde na ‘n naelbyt-sege oor Scarlets in Wallis, en kan steeds ‘n kwarteindstryd op Loftus verseker in die laaste twee groepswedstryde. Die Haaie kan nie meer vir die uitspeelronde kwalifiseer nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-521-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-611-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….