Nuus 13:00
BULLETIN 28 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Allan Boesak vra verantwoordbaarheid te midde van korrupsie onder openbare amptenare
# Die DA dien ‘n tweede etiekklag in teen minister Tolashe
# En rugby: Reinach se Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen is verby ná ‘n ernstige kniebesering teen Glasgow
# Die anti-apartheidsaktivis, Allan Boesak, sê misdaad, armoede, korrupsie en ongelykheid benadeel steeds baie Suid-Afrikaners. Hy het tydens die bekendstelling van die “Nuwe Vryheidsveldtog” in die St George-katedraal in Kaapstad, die groeiende gaping tussen ryk en arm uitgelig en dit ‘n morele krisis genoem. Boesak kritiseer beweerde korrupsie onder openbare amptenare en vra dringende verantwoordbaarheid:
# Die DA het ‘n tweede amptelike klagte by die Parlement se gesamentlike komitee oor Etiek en Ledebelange ingedien teen die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe. Dit hou verband met voertuie wat na bewering van die Chinese ambassade ontvang is, maar wat Tolashe glo nie verklaar het nie of verkeerd voorgestel het. Die jongste klagte volg op ʼn etiek-klagte wat die DA vroeër vanjaar ingedien het oor Tolashe se gedrag met die onregmatige aanstelling van ʼn direkteur-generaal. Die DA sê haar optrede skend etiese regering.
# Die Nasionale Jeugwerkloosheidbeweging sê politieke vryheid moet oorgaan in ware ekonomiese geleenthede, veral vir die jeug. Statistiek Suid-Afrika se data vir die vierde kwartaal van 2025 toon die werkloosheidsyfer is 31,4-persent, en jeug-werkloosheid 43,8-persent. Die beweging se woordvoerder, Lindokuhle Yende, vra die regering, sake-ondernemings en die burgerlike samelewing om saam te werk om werk te skep, vaardigheidsontwikkeling uit te brei en mense met of sonder grade se waardigheid te herstel:
Nuus uit die buiteland:
# Die Islamitiese Staat het aanspreeklikheid aanvaar vir ‘n dodelike aanval in die noordoostelike Adamawa-staat in Nigerië. Owerhede sê militante het op ‘n sokkerveld in Guyaka afgestorm en lukraak begin losbrand. Minstens 29 mense het gesterf. Die staat se goewerneur, Ahmadu Umaru Fintiri, veroordeel die aanval en sê dit sal nie ongestraf bly nie. Hy het beloof om veiligheidsoperasies te verskerp om vrede te herstel. Die jongste aanval volg terwyl ‘n veiligheidskrisis in Nigerië toenemend onder die loep is met die algemene verkiesing wat oor minder as ‘n jaar plaasvind.
# Rugby: Die Stormers se Springbok-skrumskakel, Cobus Reinach, se Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen is verby weens ‘n langtermyn-kniebesering wat hy Saterdag teen Glasgow Warriors opgedoen het. Afrigter John Dobson sê sy afwesigheid gaan hulle effens onder druk plaas, maar hulle kan gelukkig terugval op Stefan Ungerer, Imad Khan en Dewaldt Duvenage. Die Stormers het die voorste plek op die punteleer by die Skotte oorgeneem na Saterdag se oorwinning in Kaapstad. Hulle speel hulle oorblywende groepswedstryde in Ierland teen Ulster en in Wallis teen Cardiff.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-754-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-616-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….