Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerstens na rugby: Die Stormers se Springbok-skrumskakel, Cobus Reinach, se Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen is verby weens ‘n langtermyn-kniebesering wat hy Saterdag teen Glasgow Warriors opgedoen het. Afrigter John Dobson sê sy afwesigheid gaan hulle effens onder druk plaas, maar hulle kan gelukkig terugval op Stefan Ungerer, Imad Khan en Dewaldt Duvenage. Die Stormers speel hulle oorblywende groepswedstryde in Ierland teen Ulster en in Wallis teen Cardiff.
Die Stormers, die Leeus en die Bulle kan intussen nog almal tuis-kwarteindstryde beklink. Die Stormers is tans boaan die punteleer nadat hulle Glasgow verpletter het. Die Leeus het tot derde plek opgeskuif na die oorwinning oor Connacht in Johannesburg. Die Bulle is tans sesde na ‘n naelbyt-sege oor Scarlets in Wallis, en kan steeds ‘n kwarteindstryd op Loftus verseker in die laaste twee groepswedstryde. Die Haaie kan nie meer vir die uitspeelronde kwalifiseer nie.
# Atletiek: Die eerste Simbine Classic wat vandag op die Pilditch-stadion in Pretoria begin, is die land se eerste Wêreldatletiek-vastelandse silwerbyeenkoms. Die Suid-Afrikaanse naelloper, Akani Simbine, sê dit gee plaaslike atlete kans om ranglyspunte te verdien en tuis met die res van die wêreld mee te ding. Hy het teenoor SABC News gapings in grondvlak-ontwikkeling uitgelig en meer belegging in benadeelde gemeenskappe aangespoor om talent te ontsluit en toekomstige kampioene te bemoedig:
# Gholf: Die 156ste Britse Ope sal in 2028 op die Royal Lytham- en St Annes-gholfklub in Engeland aangebied word. Dit word die eerste keer daar gespeel sedert 2012, toe Ernie Els dit ‘n tweede keer gewen het. Vanjaar se Ope sal op Royal Birkdale aangebied word, terwyl dit volgende jaar na St Andrews in Skotland terugkeer. R&A se uitvoerende hoof, Mark Darbon, sê aansienlike opknappingswerk is by Royal Lytham gedoen:
# En sokker: Kroasië en AC Milan se kaptein, Luka Modric, se deelname aan die Wêreldbekertoernooi is in die weegskaal nadat hy Sondag sy wangbeen gebreek het tydens ‘n ligawedstryd teen Juventus. Hy het sy kop gestamp teen Juventus se middelveldspeler, Manuel Locatelli, en later ‘n suksesvolle operasie ondergaan. Kroasië se beheerliggaam sê die 40-jarige veteraan van vier Wêreldbekertoernooie sal alles moontlik doen om fiks te wees vir vanjaar se toernooi in Noord-Amerika, wat op 11 Junie begin. Kroasië speel in Groep L teen Engeland, Ghana en Panama.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….