Nuus 11:00
BULLETIN 28 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal is bekommerd oor onlangse xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika
# Die verdagte in die skietervoorval in die Withuis kan van nog oortredings aangekla word
# En atletiek: Die Simbine Classic is Suid-Afrika se eerste Wêreldatletiek-vastelandse silwerbyeenkoms
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, het kommer uitgespreek oor xenofobiese aanvalle en voorvalle van teistering en intimidasie teen migrante en buitelanders in KwaZulu‑Natal en die Oos-Kaap. Onlangse betogings teen immigrante het gewelddadig geraak. Guterres sê mense wat geweld aanhits en maatskaplik-ekonomiese toestande uitbuit, moet aanspreeklik gehou word. Hy sê geweld, boendoe-geregtigheid en alle vorme van aanhitsing tot haat het geen plek in ‘n inklusiewe, demokratiese samelewing wat regeer word deur die oppergesag van die reg en respek vir menseregte nie.
# ‘n Professor aan die Stellenbosse Sakeskool, Armand Bam, sê Suid-Afrika het nie genoeg gedoen om strukturele ongelykhede uit te wis wat in apartheid gewortel is nie. Hy het teenoor SABC News die ongelykhede in welvaart en leierskap uitgelig en sê ‘n klein persentasie besit die meerderheid van welvaart. Bam sê wit mans beklee steeds meer as 70-persent van leierskapsrolle. Hy beklemtoon die behoefte aan bewys-gegronde oplossings om ongelykheid te beëindig:
# Die mynwerkersvakbond N-U-M sê hy gaan die regsroete volg om seker te maak die Nasionale Vervolgingsgesag reageer op bevindings oor mynsterftes. Die Suid-Afrikaanse mynbedryf het verlede jaar 41 sterftes aangeteken, wat die laagste op rekord is. In ʼn groot tragedie wat vanjaar plaasgevind het, het ʼn modderstorting in die Ekapa-diamantmyn in Kimberley vyf mynwerkers se lewens geëis. N-U-M sê alle bevindings en aanbevelings oor veiligheid wat uit Artikel 72-navrae spruit, moet onmiddellik ingestel word om die herhaling van sulke tragedies te voorkom.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse aanklaer vir die Distrik Columbia, Jeanine Pirro, het bevestig nog aanklagte kan kom teen die verdagte in die naweek se skietvoorval in die Withuis. Die 31-jarige Cole Tomas Allen word van drie federale misdade aangekla: poging om die Amerikaanse president te vermoor, vervoer van ʼn vuurwapen oor staatsgrense om ʼn misdaad te pleeg, en die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn geweldsmisdaad. Pirro sê politieke geweld sal nie geduld word nie:
# Atletiek: Die eerste Simbine Classic wat vandag op die Pilditch-stadion in Pretoria begin, is die land se eerste Wêreldatletiek-vastelandse silwerbyeenkoms. Die Suid-Afrikaanse naelloper, Akani Simbine, sê dit gee plaaslike atlete kans om ranglyspunte te verdien en tuis met die res van die wêreld mee te ding. Hy het teenoor SABC News gapings in grondvlak-ontwikkeling uitgelig en meer belegging in benadeelde gemeenskappe aangespoor om talent te ontsluit en toekomstige kampioene te bemoedig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-669-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-637-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….