Nuus 09:00
BULLETIN 28 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê hulle het doelbewus stappe gedoen om ‘n alternatief vir die ANC te bou
# Die parlementêre ad hoc-komitee sal ‘n konsepverslag oor hul werk tot dusver ontvang
# En koning Charles sal vandag die Amerikaanse Kongres toespreek
# ActionSA sê na dekades onder ANC-leierskap word die belofte van vryheid ondermyn deur gebrekkige dienslewering, toenemende werkloosheid en verswakte instellings. Die party sê hy het doelbewuste stappe gedoen om ‘n geloofwaardige, gestruktureerde alternatief te bou. ActionSA-woordvoerder Boitumelo Molefe sê hulle het die afgelope maande nasionaal uitgebrei met die doel om burgemeesterskandidate in talle provinsies aan te kondig, en leiers te identifiseer wat bevoeg en reg is om te regeer:
# Die parlementêre ad hoc-komitee vergader vanaand om huishoudelike kwessies te bespreek, en sal onder meer ʼn konsepverslag oor sy werk tot dusver ontvang. Die komitee sal ook inligting ontvang oor korrespondensie van die Busisiwe Mkhwebane-stigting, forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan se voormalige assistent Sarah-Jane Trent, en die inspekteur-generaal van Inspeksie se verslag. Die stigting vra dat die gewese ontleder van Misdaadintelligensie, Philasande Dotyeni, soos ooreengekom in camera getuig. Trent vra dat haar getuienis ongeldig verklaar word en voer aan sy is gediagnoseer met post-traumatiese stresversteuring, maar die komitee weier.
# Die Johannesburgse metropolisie sê die getal inhegtenisnemings weens dronkbestuur bly hoog, ongeag volgehoue waarskuwings en opvoedingsveldtogte. Altesaam 214 motoriste is van 20 tot 26 April tydens taktiese ontplooiings en padblokkades in hegtenis geneem vir bestuur onder die invloed van alkohol. Die woordvoerder van die metropolisie, Xolani Fihla, sê talle motoriste ignoreer steeds die wet en stel ander lewens op die pad in gevaar:
# Koning Charles en koningin Camilla se vierdaagse staatsbesoek aan die Verenigde State het gister begin toe hulle president Donald Trump en presidentsvrou Melania Trump by die Withuis ontmoet het. Hulle het daarna ʼn tuinpartytjie by die Britse ambassadeur se huis in Washington bygewoon. Koning Charles spreek na verwagting vandag die Kongres toe. Die Britse ambassadeur in Amerika, Christian Turner, het aan CBS News gesê die koning se besoek is ʼn poging om ʼn unieke vriendskap tussen die twee bondgenote te hernu en nuwe lewe te gee:
# Krieket: Die verdedigende kampioen in die Indiese Premierliga, die Royal Challengers Bengaluru, het ‘n klinkklare oorwinning van nege paaltjies oor die Delhi Capitals behaal. Josh Hazlewood het vier paaltjies geneem en Bhuvneshwar Kumar drie in die Capitals se beurt waarin hulle in die 17de beurt vir 75 uitgeboul is. Devdutt Padikkal het hierna 34 nie uit nie van slegs 13 aflewerings aangeteken om die RCB te help om hul wenteiken te haal. Dit is die tweede vinnigste oorwinning in IPL-geskiedenis en is een van die grootste seges ooit wat betref die aantal balle wat in ‘n wedstryd oor is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend–723-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-672-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….