Nuus 07:00
BULLETIN 28 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile roep ‘n vergadering van die RNE-huisskoonmaak-meganisme byeen
# Drie buitelandse sake-eienaars is doodgeskiet in die Johannesburgse middestad
# En rugby: Die Junior Bokke skop op ’n wenvoet af in die o.20-rugbykampioenskap
# Adjunkpresident Paul Mashatile hou vandag ‘n vergadering met die regering van nasionale eenheid se huisskoonmaakmeganisme. Die struktuur is in 2024 deur president Cyril Ramaphosa ingestel om beleidsgeskille in die RNE te besleg. Die vergadering kom te midde van spanning tussen koalisievennote in aanloop tot die munisipale verkiesing. Mashatile het voorheen gesê die vergaderings dien as aanduiding dat die RNE in stand gehou word en verbind is tot die gedeelde doelwitte van elke verteenwoordigde party. Dit sluit inklusiewe groei, werkskepping en bekamping van armoede in.
# United Africans Transformation sê Suid-Afrika se vryheid bly onvolledig, want miljoene mense worstel steeds met armoede, werkloosheid en ‘n gebrek aan grond. Die organisasie meen politieke regte is nie gelykstaande aan ware bevryding nie, en vra dringende herverdeling van grond en ekonomiese hervorming. Nasionale woordvoerder Mighty Mabule vra die regering om werkskepping voorop te stel, ongelykheid aan te pak en Suid-Afrikaners se waardigheid te herstel:
# Gautengse polisie het ‘n ondersoek begin nadat drie buitelandse winkeleienaars gister in Johannesburg se middestad doodgeskiet is. Die polisiewoordvoerder, Noxolo Kweza, sê die slagoffers wat tussen 30- en 45-jaar oud was, is deur twee onbekende gemaskerde aanvallers doodgeskiet terwyl hulle by ʼn restaurant ontbyt geëet het:
# Die FBI-direkteur Kash Patel sê hulle sal saam met plaaslike en federale wetstoepassers werk om lesse te leer uit Saterdag se voorval by die Withuis-korrespondente-dinee. Die 31-jarige Cole Tomas Allen is gearresteer nadat hy volgens berigte naby ʼn sekuriteitbeheerpunt in die Washington Hilton-hotel se voorportaal begin skiet het terwyl die dinee daar aangebied word. Patel het aan Fox News gesê ʼn volledige ondersoek is aan die gang om seker te maak dat geleenthede in die toekoms veilig is:
# Rugby: Die Junior Springbokke het hul Onder 20-Rugbykampioenskapveldtog op ʼn wen-noot afgeskop toe hulle Argentinië in die Baai met 48-21 verslaan het. ʼn Skitterende vertoning in die eerste helfte het die gashere ʼn voorsprong van 36-0 verseker. Argentinië het in die tweede helfte teruggeveg, maar dit was tevergeefs en die Junior Bokke het ʼn bonuspunt-oorwinning beklink. In die ander wedstryd het die verdedigende kampioene, Nieu-Seeland, ʼn welverdiende 34-29-oorwinning oor Australië behaal. Die spanne is Sondag weer in aksie wanneer Suid-Afrika en Australië mekaar takel terwyl Nieu-Seeland en Argentinië sake sal uitspook.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-235-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-689-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Studie dui kommer aan oor die toenemende gebruik van e-sigarette onder Suid-Afrikaanse hoërskool-leerders. Navorsing, gelei deur professor Richard Van Zyl-Smith van die Universiteit van Kaapstad, toon e‑sigarette is nou die algemeenste inasemings-middel onder leerders. Die studie verbind ook e-sigaret-patrone met die gebruik van tabak en dagga, wat vrese oor vroeë nikotienverslawing en langtermyn-gesondheidsgevare laat ontstaan. Van Zyl-Smith beklemtoon sterker regulering en bewusmakingsveldtogte word dringend benodig om jongmense teen afhanklikheid te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….