Nuus 06:00
BULLETIN 28 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die demokratiese regering het die afgelope 32 jaar baie deurbrake gemaak
# Nog ‘n verdagte is in hegtenis geneem oor ‘n reeks aanvalle op Joodse terreine in Londen
# En krieket: Laura Wolvaardt lei die Protea-vroue na ‘n 4-1 oorwinning in die T20-reeks teen Indië
# President Cyril Ramaphosa sê die afgelope 32 jaar van demokrasie in Suid-Afrika is ‘n progressiewe konstitusionele demokrasie gebou, stewig geanker in die oppergesag van die reg, met ‘n onafhanklike regbank wat dien as ‘n bewaarder van almal se regte. Hy het gister die hooftoespraak gelewer tydens die nasionale Vryheidsdag-viering in Bloemfontein. Ramaphosa het beklemtoon dat baie deurbrake deur die demokratiese regering gemaak is:
Ramaphosa sê ook Suid-Afrikaners moet nooit toelaat dat die werklike kommer van gemeenskappe oor onwettige migrasie vooroordeel teenoor mede-Afrikane kweek nie. Hy het gesê die regering tree streng op teen onwettige migrasie en ondernemings wat die land se wette oortree deur ongedokumenteerde persone ten koste van burgers aan te stel. Ramaphosa het bygevoeg dat burgers nie moet toelaat dat kommer oor onwettige migrante aanleiding gee tot xenofobie nie:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê sterker maatreëls vir kunsmatige intelligensie-bevestiging sal ingestel word om die geloofwaardigheid van beleidsraamwerke te beskerm. Hy het die konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie onttrek nadat bevind is dit bevat vals akademiese bronne. Malatsi sê vertroue op onbevestigde K-I-geskepte inhoud ondermyn integriteit en kom neer op intellektuele wangedrag. Hy voeg by gevolgbestuur sal begin terwyl die integriteit van die beleid herstel word:
# Suid-Afrika, in vennootskap met die Afrika-Unie-kommisie, bied die vyfde gewone sitting van die Afrika-Unie se gespesialiseerde tegniese komitee oor Vervoer en Energie in Johannesburg aan. Besprekings fokus op streeksverbinding en sleutelprogramme soos die Program vir Infrastruktuurontwikkeling in Afrika. Die hoofdirekteur van Elektrisiteit en Energie, Elizabeth Marabwa, sê die geleentheid versterk samewerking, lei beleggings en ondersteun volhoubare groei. Sy sê hernubare energie, energiemark‑integrasie en projekte soos die Afrika Enkele Elektrisiteitsmark sal sterk beklemtoon word.
# Die Britse polisie sê ‘n 26ste verdagte is sedert verlede maand aangekeer in verband met ‘n vlaag aanvalle op Joodse terreine in die noordweste van die hoofstad, Londen. In die jongste voorval is ‘n 37-jarige man ingeneem vir ondervraging oor die vermeende beplanning van terreurdade. Vorige voorvalle sluit in brandstigting by ‘n sinagoge en die gewese kantore van ‘n Joodse welsynsorganisasie, en ‘n hommeltuig wat naby die Israelse ambassade gevlieg het. Sky News berig teen-terreur-polisie ondersoek moontlike Iranse betrokkenheid.
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt het uitgeblink met die kolf toe die Protea-vroue Indië in Benoni met 23 lopies in die vyfde en laaste T20-wedstryd verslaan het en die reeks van vyf wedstryde met 4-1 beklink het. Wolvaardt het ‘n onoorwonne 92 van 56 balle aangeteken en Suid-Afrika tot 155 vir ses gelei. Hierna het Nonkululeko Mlaba en Nadine de Klerk elk twee paaltjies geneem terwyl Indië tot 132 vir agt beperk is. Hierdie reeks was voorbereiding vir die T20-Wêreldbeker vir Vroue in Engeland en Wallis, met Suid-Afrika wat hul veldtog op 13 Junie teen Australië begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-12-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-687-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….