Nuus 09:00
BULLETIN 27 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa lei die nasionale Vryheidsdag-herdenking in Bloemfontein
# Sokker: Pirates bly boaan die Premierskap ná ‘n gelykop Soweto-derby maar Sundowns verloor punte
# En minister Malatsi onttrek die K-I-beleid ná ‘n skandaal oor vals verwysings
# President Cyril Ramaphosa lei vandag die nasionale Vryheidsdag-herdenking in Mangaung in die Vrystaat, ter viering van 32 jaar sedert Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994. Die tema is “Vryheid en die Oppergesag van die Reg: Dertig Jaar van Demokratiese Burgerskap.” Die tema besin oor die land se grondwetlike reis en belangrike mylpale, insluitend 30-jaar van die Grondwet en geskiedkundige bevrydingstryde. Die regering, die burgerlike samelewing en gemeenskappe sal demokrasie vier, grondwetlike waardes bevorder en aktiewe burgerskap aanmoedig, veral onder jongmense.
Forum for South Africa sê intussen Vryheidsdag moet verder strek as vierings en die gaping weerspieël tussen beloftes van 1994 en huidige werklikhede. Die party sê politieke vryheid is wel bereik, maar werkloosheid, armoede, ongelykheid, misdaad en korrupsie is steeds ‘n probleem. Woordvoerder Tebogo Mashilompane vra dringende optrede om instellings te versterk, verantwoordbaarheid te verbeter en ekonomiese geregtigheid te verseker, sodat vryheid waardigheid kan meebring:
# Die Glencore Merafe Chrome Venture het Eskom se oproep gesteun om elektrisiteitstariefverligting vir die sukkelende ferrochroomsektor te versnel. Die voorstel word hersien deur die energiereguleerder, NERSA. Die onderneming sê vertragings bedreig werksgeleenthede en bedrywighede, met sommige smeltoonde wat reeds onaktief is. Hy waarsku dat regulatoriese sekerheid voor middel Mei dringend nodig is om verdere werkverliese te vermy en die bedryf se langtermyn volhoubaarheid te verseker.
# Sokker: Orlando Pirates het sy plek boaan die Premierskap behou ná ‘n taai gelykop-stryd van een-elk teen Kaizer Chiefs in ‘n uitverkoopte Soweto-derby op die FNB-stadion. Mamelodi Sundowns het ‘n kans misgeloop om bo uit te kom ná ‘n doellose gelykoptelling teen Richards Bay op die uMhlathuze-stadion. Pirates het tans 59 punte en Sundowns 58. Pirates se afrigter, Abdeslam Ouaddou, sê die titel-wedloop raak moeiliker met slegs enkele wedstryde oor:
# En ten slotte: Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het Suid-Afrika se konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie onttrek nadat bevind is dit bevat vals akademiese bronne. Die departement het die probleem bevestig na aanleiding van berigte in News24 dat sommige verwysings waarskynlik deur K-I geskep is. Malatsi sê die vervalsing skend die beleid se geloofwaardigheid, en beloof gevolgsbestuur. Hy beklemtoon die behoefte aan strenger toesig terwyl die regering die beleid sal hersien en vertroue sal herstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….