Nuus 11:00
BULLETIN 25 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema word vrygespreek van die bewerings oor die Tshwane-tenderlys
# Iran se minister van Buitelandse Sake is in Pakistan vir verdere onderhandelinge
# En tennis: Sinner troef Bonzi by die Madrid Ope
# Die geskorste adjunkhoof van die Tshwane-metropolisie, Umashi Dhlamini, het aan die Madlanga-kommissie verduidelik dat die EFF-leier Julius Malema nie betrokke was by enige sekuriteitstenderlys vir teen-grondbesettingsoperasies nie. Dhlamini het aan die getuienisleier, Matthew Chaskalson, gesê twee individue het beweer dat hulle Malema verteenwoordig en het met die stad se hoof finansiële beampte, Gareth Mnisi, vergader om druk uit te oefen dat spesifieke maatskappye kontrakte moet kry. Hy sê die bewerings oor Malema is misleidend:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n uitspraak van die Spesiale Tribunaal verwelkom wat ‘n tender van 85-miljoen-rand tersyde stel wat aan ISF Shula Joint Venture toegeken is vir ‘n KwaZulu-Natalse grensmuur. Die tribunaal het bevind dat slegs ‘n deel van die projek voltooi is ten spyte daarvan dat die meeste fondse betaal is en het die terugbetaling van winste en regskoste gelas. Die nasionale woordvoerder van die eenheid, Selby Makgotho, het aan SABC News gesê die eenheid sal strafregtelike bewyse na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys:
# Die Iranse minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, is sedert gister in Pakistan vir gesprekke om die vredesgesprek met die VSA te hervat in die hoop om die agt weke lange oorlog te beëindig wat duisende lewens geëis en vir ‘n opskudding in wêreldmarkte gesorg het. President Donald Trump het vroeër aan Reuters gesê Iran beplan om ‘n aanbod te maak, maar hy weet nie wat dit behels nie. Na ‘n Amerikaanse bomveldtog en Iran se blokkering van die Straat van Hormoes, is die twee lande in ‘n duur dooiepunt. Iran se olie-uitvoere word geblokkeer en Amerika se petrolprys is die hoogste in jare.
# Sportnuus:
# Tennis: Jannik Sinner het Vrydag die eerste tree gegee na ‘n moontlike rekord vyfde agtereenvolgende Masters 1000-titel met ‘n oorwinning in drie stelle oor Benjamin Bonzi in die tweede ronde van die Madrid Ope. Die Italiaanse wêreldnommer-een wil die rekord van vier agtereenvolgende oorwinnings van sterspelers soos Novak Djokovic en Rafael Nadal die week in die Spaanse hoofstad ewenaar. Met Sinner se grootste mededinger, Carlos Alcaraz, beseer en ook nie in staat om in Franse Ope mee te ding nie, is die Italianer tans die oorweldigende gunsteling vir elke toernooi waarin hy speel.
# Sokker: Die wedloop om die Premierliga-titel is in die pylvak met Orlando Pirates wat net een punt voor is na Sundowns Woensdagaand teen Stellenbosch gelykop gespeel het. Die Sea Robbers pak hul aartsvyande, Kaizer Chiefs, môre op ‘n uitverkoopte FNB-stadion in die 185ste Soweto-derby. Ontleders sê deurlopendheid is die sleutel aangesien die Brazilians nog een wedstryd oor het, en ‘n oorwinning vir die Buccaneers is van uiterste belang. Daar word verwag dat Amakhosi, hoewel nie titelaanspraakmakers nie, sal op sterk verdediging en teenaanvalle staatmaak om onder die top-drie te eindig.
# En ten slotte: Die veteraan-aktrise en voormalige skoonheidskoningin, Cynthia Shange, word vanoggend ter ruste gelê in Empangeni, KwaZulu-Natal. Die 76-jarige is Maandag in ‘n hospitaal in KwaZulu-Natal na ‘n siekbed oorlede. Shange het geskiedenis gemaak as die eerste swart Suid-Afrikaner wat in 1972 aan die Mej. Wêreld-kompetisie deelgeneem het. Shange het in die 1975-fliek, Udeliwe, gespeel, Suid-Afrika se eerste speelfilm met ‘n geheel en al swart rolverdeling. Sy was wyd bekend vir ander rolle in Muvhango en Shaka Zulu. Sy het verskeie lewensprestasie-toekennings ontvang en word oorleef deur haar dogter, Nonhle Thema.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….