Nuus 07:00
BULLETIN 30 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê Jacob Zuma se optrede regverdig onmiddellike skorsing uit die ANC
# Rand Water vra media-sensitiwiteit na ‘n noodlottige skietvoorval
# En, Joe Biden oorweeg nog sy reaksie na ‘n dodelike aanval op Amerikaanse soldate in Jordanië
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die Nasionale Uitvoerende Komitee het tot die gevolgtrekking gekom dat buitengewone omstandighede bestaan wat die opheffing van oudpresident Jacob Zuma se lidmaatskap regverdig. Dit is in ooreenstemming met Reël 25.60 van die party se Grondwet. Zuma het die pasgestigte uMkhonto weSizwe in die openbaar onderskryf en ondersteun. Mbalula sê Zuma se optrede sedert die aankondiging van die MK-party het die ANC se integriteit benadeel:
Mbalula sê verder die vorming van die uMkhonto weSizwe-party is nie per ongeluk nie, maar ‘n doelbewuste poging om geloofwaardigheid te verleen aan ʼn openlike teenrewolusionêre agenda. Oudpresident Jacob Zuma is onmiddellik geskors na sy aankondiging dat hy nie vir die regerende party sal stemme werf of stem nie. Mbalula sê die ANC is gewillig, bevoeg en gereed om die winste van vryheid en grondwetlike demokrasie te verdedig:
# Rand Water doen ‘n beroep om sensitiwiteit terwyl hulle die tragiese verlies van ‘n bestuurder tydens die terug-skool-toe-veldtog by die Zakarriyapark-gemeenskapsentrum hanteer. Die Stad Johannesburg se hoofsweep, Sithembiso Zungu, is gewond en twee ander mense het gesterf nadat verskeie verdagtes gister in die saal in die suide van die stad losgebrand het voor hulle op die vlug geslaan het. Die woordvoerder, Makenosi Maroo, sê die ander slagoffers se identiteit mag nie tans bekend gemaak word nie:
# Die burgerregte-organisasie Kaapse Forum sê die vlaag vuurwapendiefstalle uit die Mitchells Plain-polisiekantoor in Kaapstad is kommerwekkend. Dit het verlede week aan die lig gekom dat 15 vuurwapens en agt nagemaakte vuurwapens wat in misdade gebruik is, uit die polisiekantoor gesteel is. Een beampte is gearresteer en uiteindelik afgedank nadat die wapens in November verlede jaar as vermis aangemeld is. Bernard Pieters van Kaapse Forum sê dis duidelik die polisie se nasionale strukture het nie die vermoë om hierdie probleem te bekamp of te bestuur nie.
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, oorweeg steeds sy land se reaksie nadat drie Amerikaanse soldate dood en tientalle gewond is in ‘n hommeltuig-aanval op hul kwartiere in Jordanië. Die Withuis sê Biden en sy nasionale veiligheidspan weeg die keuses op. Dit is nog onseker wie die aanval uitgevoer het, maar Amerika is van mening dit was Irans-gesteunde groepe. Die veiligheidswoordvoerder, John Kirby, sê hoewel dit die eerste dodelike aanval op Amerikaanse soldate in die Midde-Ooste is sedert die aanvalle op Israel op 7 Oktober, was dit nie die eerste poging nie.
# Rugby: Engeland se nuwe kaptein, Jamie George, wil inspirasie put uit sy land se krieketspan wanneer die Sesnasies die naweek afskop. England kom Saterdagmiddag in Rome teen Italië te staan in sy eerste wedstryd. Die Engelse krieketspan het Indië verstom deur vanuit ‘n oënskynlik hopelose situasie te herstel om die eerste toets te wen. George sê hulle wil hulle ondersteuners weer laat glimlag nadat hulle net twee van hulle vorige vyf tuiswedstryde gewen het. Engeland se eerste tuis-kragmeting op Twickenham is volgende Saterdag teen Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-515-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-30-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….