Nuus 08:00
BULLETIN 25 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê die Masemola-saak laat die debat oor senior amptenare wat die staat plunder opvlam
# Die DA neem die kwessie oor die vermiste lys van seksoortreders na die Parlement
# En swaar reën en skadelike winde word in die Wes- en Noord-Kaap verwag
# Die GOOD-party sê senior regeringsamptenare word nie genoeg aanspreeklik gehou vir die misbruik van openbare fondse nie. Die party voer aan daar is te min optrede teen onreëlmatige besteding en dit word nie nie konsekwent regoor die regering toegepas nie. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron sê die saak van die geskorste nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola beklemtoon ‘n groter probleem waar rekenpligtige beamptes nie altyd verantwoordelik gehou word vir finansiële wanbestuur nie:
# Die DA doen ‘n beroep op die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, om voor die parlement te verskyn om rekenskap te gee oor die oponthoud van 14 maande met die uitreiking van die nasionale register vir seksoortreders. Volgens die party bly die register, wat die name van ongeveer 32-duisend veroordeelde oortreders bevat, ontoeganklik vir keuringsdoeleindes in skole en ander instellings. Glynnis Breytenbach van die DA sê die oponthoud ondermyn die stryd teen geslagsgeweld en stel kwesbare groepe in gevaar.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik doen ‘n beroep op die owerheid om ferm op te tree indien wangedrag blootgelê word tydens die komende getuienis voor die Noordwes-wetgewer se ondersoek na die provinsie se vervoer-agentskap, North West Transport Investment. Die tegniese direkteur van die agentskap, Nelson Makgata, sal na verwagting Dinsdag verskyn. Getuienis sal na verwagting fokus op bestuursmislukkings, finansiële wanbestuur en verkrygingskwessies. Stefanie Fick van Outa doen ‘n beroep op die wetgewer om toe te sien dat die betrokkenes aanspreeklik gehou word indien wangedrag bewys word:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ‘n goed-ontwikkelde kouefront gaan na verwagting vanaf môremiddag na die Wes-Kaap en dele van die Noord-Kaap te beweeg. Dit sal swaar reën, sterk wind en ontstuimige see veroorsaak. Reën van tot 40-millimeter word in sommige gebiede verwag, met wind wat 90-kilometer per uur kan bereik. Temperature sal ná verwagting vroeg volgende week daal, met koue en nat toestande wat sal voortduur. Kusgebiede word ook gewaarsku oor gevaarlike hoë golwe.
Intussen word die terugkeer van die El Niño-weerverskynsel reeds vanaf volgende maand verwag. El Niño is ‘n periodieke opwarming van see-oppervlaktemperature in die sentrale en oostelike Stille Oseaan. Dit is bekend daarvoor dat dit streekklimate ontwrig, wat moontlik verhoogde reënval na Suid-Amerika, die suide van Amerika en die Horing van Afrika kan bring, terwyl dit droogtes kan veroorsaak in Australië, Indonesië en Suid-Asië. Die Wêreldklimaatorganisasie sê hoewel modelle ‘n sterk El Niño-gebeurtenis aandui, sal meer akkurate voorspellings eers na hierdie maand moontlik wees.
# En rugby: Die tienersensasie Markus Muller kan die jongste speler word wat ooit vir die Stormers gespeel het indien hy vandag sy debuut van die bank af vir die Stormers maak. Die 18-jarige senter het verlede jaar nog skolerugby vir Paarl Gim gespeel, en sal saam met die heelagter Damian Willemse die enigste spelers wees wat die Stormers verteenwoordig het voordat hulle 19 geword het. Die gashere speel vanmiddag in die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Glasgow Warriors in Kaapstad. Hulle is slegs vier punte agter Glasgow wat bo-aan die punteleer is, met nog net twee groepwedstryde oor ná vandag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….