Nuus 07:00
BULLETIN 25 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Firoz Cachalia veroordeel die aanvalle op Ghanese en ander buitelandse burgers
# ‘n Brandstofprysskok dreig in Mei
# En krieket: Die Proteas en Indië se vroue pak mekaar vandag in die voorlaaste T20
# Die Ministerie van Polisie het onlangse xenofobiese aanvalle en intimidasie van Ghanese en ander buitelandse burgers in Suid-Afrika, sterk veroordeel. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die dade is onwettig en druis in teen die land se grondwetlike waardes van waardigheid en menseregte. Die woordvoerder van die Ministerie, Kamogelo Mogotsi, sê die polisie het opdrag gekry om beslissend op te tree, en diegene wat verantwoordelik is sal in hegtenis geneem en vervolg word:
# Suid-Afrikaanse motoriste word gewaarsku teen nog ‘n skerp styging in brandstofpryse volgende maand. Die verhoging word gedryf deur stygende wêreldwye oliepryse en voortdurende spanning in die Midde-Ooste. Diesel kan met byna ses-rand per liter styg, terwyl petrol ook na verwagting met ongeveer twee-rand per liter sal styg. Lampolie kan met ongeveer vyf-rand per liter styg. Die regering sal na verwagting binnekort besluit of die brandstofheffingverligting verleng sal word voordat die nuwe pryse volgende maand in werking tree.
# Die DA sê polisiëring in Noordwes is erg verswak, met slegs een voertuig wat vir elke vier beamptes beskikbaar is nadat hulle die afgelope vyf jaar 433 voertuie weens skade verloor het. Volgens die party het die Polisie in die provinsie reeds vir meer as twee jaar nie ‘n kommissaris nie. Dit wek kommer oor onderbemande stasies waar infrastruktuur en basiese dienste ontbreek. Ofentse Mokae van die DA sê die mislukkings dra daartoe by dat misdaad in die provinsie styg:
# ‘n Kenner aan die Universiteit van Pretoria vra versigtige optimisme na die bekendstelling van die Suid-Afrikaans-geleide MIV-entstofproefneming, Brilliant 011, in Kaapstad. Theresa Rossouw sê die studie is ‘n belangrike wetenskaplike stap in die lang en ingewikkelde soektog na ‘n MIV-entstof, maar is nie ‘n deurbraak of genesing nie. Sy sê MIV is steeds moeilik om te teiken, hoewel volgehoue vooruitgang in behandeling en voorkoming hoop bied. Rossouw het ook beklemtoon dat duidelike kommunikasie en openbare vertroue noodsaaklik is namate die navorsing vorder.
# Navo sê dit is nie moontlik om lidlande uit die militêre bondgenootskap te skors nie. Reuters haal ‘n Amerikaanse amptenaar aan, volgens wie maatreëls in ‘n interne e-pos van die Pentagon aangedui word waarmee die VSA bondgenote kan straf wat nie sy veldtog teen Iran ondersteun nie. Die president van Amerika, Donald Trump, het Navo-lidlande herhaaldelik gekritiseer oor hul traagheid om meer betrokke te raak nadat Amerika en Israel Iran op 28 Februarie aangeval en Iran daarna die Straat van Hormoes vir skeepvaart gesluit het. Spanje het geweier dat lugmagbasisse op sy grond gebruik word vir aanvalle op Iran.
# En krieket: Die Proteas en Indië se vroue speel vanaand in die voorlaaste van vyf T20-wedstryde op die Wanderers in Johannesburg. Die gasvroue het reeds die reeks beklink deur die eerste drie kragmetings te wen. Suid-Afrika het die eerste twee wedstryde in Durban met onderskeidelik ses en agt paaltjies gewen voordat hulle die besoekers met nege paaltjies verpletter het in die derde wedstryd in Johannesburg. Maandag se laaste ontmoeting in Benoni sal die Proteas se finale voorbereiding wees vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat op 12 Junie in Engeland begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….