Nuus 16:00
BULLETIN 24 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oscar Mabuyane dagvaar Julius Malema oor beweerde lasterlike verklarings
# Die hof wys ‘n aansoek van die hand om aanklagte teen die Phala Phala-beskuldigdes terug te trek
# En ‘n peiling bevind Amerikaners gee Trump die skuld vir die brandstofprysstygings
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het in die Hooggeregshof in KuGompo City regstappe gedoen teen die EFF-leier, Julius Malema, oor beweerde lasterlike uitsprake. Hy vra die hof om die bewerings dat hy bedrieglik ‘n meestersgraad van die Universiteit van Fort Hare verwerf het, vals en onwettig te verklaar, skadevergoeding toe te ken en verdere opmerkings te voorkom. Woordvoerder Sonwabo Mbananga sê die herhaalde bewerings het Mabuyane se beeld skade berokken:
# Die Bela-Bela-landdroshof in Limpopo het ‘n aansoek van die hand gewys om aanklagte terug te trek teen die beskuldigdes in die Phala Phala-inbraak. Die saak hou verband met die inbraak op president Cyril Ramaphosa se plaas in 2020 toe buitelandse valuta ter waarde van ongeveer 10,4-miljoen-rand volgens berigte gesteel is. Bewyse in die hof het getoon dat Imanuwela David, Froliana Joseph en Ndilinasho Joseph groot bedrae van die gesteelde kontant aan luukse voertuie, eiendom en persoonlike items bestee het. Hulle staan tereg op aanklag van diefstal en geldwassery.
Ramaphosa het lande intussen versoek om binnelands sowel as wêreldwyd teen ongelykheid op te tree. Hy het voor die raadgewende raad van die stigtingskomitee van die internasionale paneel oor ongelykheid gevra vir belegging in onderwys, gesondheidsorg en ondersteuning vir kwesbare gemeenskappe. Ramaphosa spoor sterker arbeidsbeskerming, billike belasting en beperkings op korporatiewe mag aan. Hy vra ook hervorming van globale finansiële stelsels en klimaatsverbintenisse om ontwikkelende lande te ondersteun:
# Rugby: Die spanning loop hoog in die Verenigde Rugby-kampioenskap, met slegs drie groepsrondes oor. Die top-twee spanne op die punteleer, Glasgow Warriors en die Stormers, sal môre in Kaapstad sake uitspook, terwyl die Haaie vanaand in die Skotse hoofstad teen Edinburgh te staan kom. Die Leeus is die gashere vir die Ierse span Connacht in Johannesburg en die Bulle pak Scarlets in Wallis. Die Leeus is nou vierde op die punteleer, die Bulle agtste en die Haaie elfde. Die top-agt spanne kwalifiseer vir die kwarteindronde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-313-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-709-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-10-sent per vat.
# En laaastens, ‘n Reuters/Ipsos-peiling het bevind dat ‘n besliste meerderheid Amerikaners president Donald Trump die skuld gee vir die stygende brandstofpryse, wat sy Republikeinse Party onder druk plaas voor November se middeltermynverkiesing. Sowat 77-persent van geregistreerde kiesers in die peiling sê Trump dra ten minste ‘n redelike mate van verantwoordelikheid vir die prysstygings weens sy besluit om ‘n oorlog teen Iran te begin. Vyf-en-vyftig persent van Republikeinse kiesers, 95-persent van Demokrate en 82-persent van onafhanklikes het Trump die skuld gegee vir die hoër koste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….