Nuus 15:00
BULLETIN 24 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra wêreldeenheid om ongelykheid uit die weg te ruim
# Die staat versoek tronkstraf vir Robert Mugabe se seun en sy medebeskuldigde
# En rugby: Die tienerster Markus Muller sal moontlik môre sy buiging vir die Stormers maak
# President Cyril Ramaphosa sê geen land kan ongelykheid alleen aanpak nie en vra globale samewerking. Hy het voor die raadgewende raad van die stigtingskomitee van die internasionale paneel oor ongelykheid in Johannesburg onthul die rykste een-persent het tussen 2000 en 2024 41-persent van nuwe welvaart ingesamel en die helfte van die wêreld een-persent. Ramaphosa waarsku ongelykheid bedreig demokrasie, ekonomieë en klimaatsveerkragtigheid en sê nasies moet saamwerk teen ‘n groeiende globale noodtoestand:
# Die vakbondfederasie SAFTU hoop Puleng Dimpane se aanstelling as waarnemende nasionale kommissaris van polisie is onderwerp aan streng ondersoeke na agtergrond en integriteit. Woordvoerder Asive Dyani sê daar is ‘n onmiddellike behoefte om agtergrond-ondersoeke, leefstyl-oudits en teenkorrupsie-maatreëls in die Polisiediens te versterk. Sy sê dis nodig om die diens te herbou as ‘n professionele, betroubare instelling wat mense dien en nie misdaadsindikate nie:
# Die staat versoek tronkstraf versoek vir die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine, en sy medebeskuldigde, Tobias Matonhodze, in die Alexandra-streekhof in Gauteng vir die skiet van hul werknemer in hul huis in Hydepark, Johannesburg. Die staat eis 12 maande elk vir die rig van ‘n vuurwapen en die immigrasie-aanklag teen Mugabe. Die staat wil hê Matonhodze moet vyf jaar uitdien vir poging tot moord en verskeie vonnisse vir ander misdade. Die saak is tot Woensdag uitgestel vir vonnisoplegging.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng is sterk gekant teen die Emfuleni-munisipaliteit se besluit om in Junie vyf afgevaardigdes te stuur na die Wêreld-beraad vir Stede in Singapoer. Volgens ‘n aanvanklike kostebepaling sal dit sowat 970-duisend-rand kos. Gerda Senekal van die VF Plus sê die betoog dat sulke reise langtermynvoordele bied is nie geldig nie, veral in die afwesigheid van enige duidelike, befondste of geloofwaardige plan vir verbeterings op plaaslike vlak:
# Rugby: Die tienerster Markus Muller kan môre sy buiging vir die Stormers maak nadat hy op die bank ingesluit is vir die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Glasgow Warriors in Kaapstad. Die 18-jarige senter het verlede jaar nog skolerugby vir Paarl Gim gespeel, en kan by heelagter Damian Willemse aansluit as die enigste spelers wat die Stormers voor 19-jarige ouderdom verteenwoordig het. Willemse vervang Warrick Gelant in die nommer 15-trui in een van ses veranderinge wat afrigter John Dobson aan die span gemaak het wat verlede naweek teen Connacht verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-257-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-710-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….