Nuus 14:00
BULLETIN 24 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat versoek tronkstraf vir Robert Mugabe se seun en sy medebeskuldigde
# Die pous veroordeel sterftes in Iran en spreek spyt uit oor gebrek aan vordering met vredesgesprekke
# En sokker: Minister McKenzie sê die wag vir die video-skeidsregters is uiteindelik amper verby
# Die staat versoek tronkstraf vir die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine, en sy medebeskuldigde, Tobias Matonhodze, in die Alexandra-streekhof in Gauteng vir die skiet van hul werknemer in hul huis in Hydepark, Johannesburg. Die staat eis 12 maande elk vir die rig van ‘n vuurwapen en die immigrasie-aanklag teen Mugabe. Die staat wil hê Matonhodze moet vyf jaar uitdien vir poging tot moord en verskeie vonnisse vir ander misdade. Die saak is tot Woensdag uitgestel vir vonnisoplegging.
# Die United Democratic Movement het president Cyril Ramaphosa van besluitelose leierskap beskuldig na bewerings van korrupsie binne die Polisiediens. Hy het gister die nasionale kommissaris, Fannie Masemola, geskors. UDM se hoofsweep, Thandiwe Nontenja, het aan SABC News gesê ondanks skorsings is niemand nog in hegtenis geneem nie. Sy bevraagteken vertragings wat verband hou met kommissies van ondersoek. Nontenja is bekommer oor aanspreeklikheid en sê Suid-Afrikaners verloor vertroue in die polisie:
Nuus uit die buiteland:
# Zimbabwe en Botswana gaan paspoortvrye reise instel wat landsburgers sal toelaat om grense tussen die twee lande met slegs nasionale identiteitsdokumente oor te steek. Die Zimbabwiese president, Emmerson Mnangagwa, sê die gefaseerde plan begin met grensgemeenskappe en korttermynbesoeke om die beweging van mense, goedere en dienste te vergemaklik. President Duma Boko van Botswana sê dit ondersteun streeksintegrasie. Hy vra ook Afrika-eenheid te midde van groot hulpbronne en ‘n jeugdige bevolking:
# Pous Leo het die geweld in Iran en die dood van onskuldige burgerlikes veroordeel. Hy het gepraat aan boord van die pouslike vlug terug na Rome na ‘n besoek van 11-dae aan Afrika. Die pous sê as ‘n herder kan hy nie oorlog goedkeur nie. Hy sê of daar ‘n bewindsverandering is of nie, bly die vraag hoe om die waardes waarin mense glo te bevorder sonder die dood van soveel onskuldiges. Hy spreek ook spyt uit oor die gebrek aan vordering met vredesgesprekke tussen Amerika en Iran.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die sokkerbeheerliggaam, SAFA, is op die punt om die gekose verskaffer vir Video-assistent-skeidsregter-tegnologie aan te kondig. Die aanvanklike opstelling van V-A-R sal na raming ‘n eenmalige uitgawe van tussen 70- en 80-miljoen-rand wees, met ‘n bedryfskoste van ongeveer 70-duisend-rand per wedstryd daarna. McKenzie sê daar is geen finansiële redes vir verdere vertragings in die bekendstelling van V-A-R nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-623-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-680-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….