Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die ANC het bande met oudpresident Jacob Zuma verbreek omdat hy na ‘n wegbreekparty oorgeloop het. Volgens kenners is dit ‘n gewaagde stap wat ‘n ernstige bedreiging vir die ANC se beheer in KwaZulu-Natal kan inhou.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die ANC se skorsing van Zuma. Die koerant berig die sekretaris-generaal van die party, Fikile Mbalula sê die besluit is nie ligtelik geneem nie en die ANC is bereid om dit in die hof te verdedig.
Dan is daar nuus oor die Suid-Afrikaner, Peet Botma wat die wêreld se taaiste wedvaart van vier-duisend-800 kilometer suksesvol voltooi en vierde geëindig het.
En laastens berig die koerant die Hooggeregshof in Kaapstad het Christa Gorgens en Leanda van den Berg van Oudtshoorn gewaarsku oor die onwettige verspreiding van Media24 se elektroniese koerante.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die skorsing van Zuma en die moontlike uitwerking daarvan.
# Sowetan:
Berig die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het in hul ondersoek na die Julie-onluste bevind die polisie kan nie enige blaam dra nie, terwyl daar klinkklare bewyse was dat hulle by kriminele aktiwiteite betrokke was.
# En The Citizen:
Lei met: “ANC REJECTS ‘DANGEROUS’ ZUMA”. Die koerant skryf ‘n kenner is van mening die tydsberekening vir die stap is perfek, want die ANC hoef nou eers ná die verkiesing die Zuma-kwessie af te handel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die 2022/23-boekjaar se ouditverslag van die Mangaung Metro is swakker as wat allerweë verwag is. Die Ouditeur-Generaal sê daar is beduidende en dringende ingryping nodig. Die verslag is gister ter tafel gelê.
En tweedens word berig oor ‘n graad een-leerder van die Hoërskool Prieska, Wico Vlok wat tydens die skool se kleure-byeenkoms in sy rolstoel deur die Springbok-atleet en oudleerder, Chederic Chetdo van Wyk oor die wenstreep gestoot is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Zuma. Die koerant berig daar is bespiegeling oor die uitwerking van die oudpresident se skorsing op die party se steun in KwaZulu-Natal.
Dan skryf die koerant ook oor die vroue wat Media24 se elektroniese koerante gedeel het.
En laastens is daar nuus oor pornografiese foto’s van Taylor Shift wat deur Kunsmatige Intelligensie geskep en op X versprei is.
# En Cape Times:
Skryf oor die polisie se onvermoë om die gewelddadige plundery in Julie 2021 te verhoed.
En berig die ANC se mislukking om Zuma in toom te hou spook by die party.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig onwettige perlemoenhandel het die afgelope tyd skerp toegeneem in Nelson Mandelabaai. Volgens kenners beleef die misdaad tans ‘n hoogtepunt.
En tweedens skryf die koerant Siyadumisa Mbombo is dood toe hy probeer het om sy vyfjarige dogter, Lekeysha Meyer wat deur ‘n onwettige elektriese verbinding geskok is te red.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor die gewelddadige betogings wat in Phoenix uitgebreek het.
En berig die Menseregtekommissie sê gebrekkige misdaadintelligensie het gelei tot die Julie-onluste.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese ministerie van Landbou, Water en Grondhervorming het ‘n dokument uitgereik wat bepaal dat wit manlike plaaseienaars grondbelasting moet betaal en nie vir vrystelling kwalifiseer nie.
En tweedens skryf die koerant ‘n 28-jarige Namibiese man is in die buiteland op ‘n aanklag van moord in hegtenis geneem, nadat hy na bewering sy meisie met ‘n mes doodgesteek het.