Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê 16 super-ondersteuners sal ‘n ten volle betaalde reis wen om Bafana Bafana te ondersteun op die Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. ‘n Paneel van kundiges in Suid-Afrikaanse sport en vermaak, onder meer Robert Marawa en Andile Ncube, sal een gelukkige ondersteuner uit elke Premierliga-sokkerklub kies. McKenzie sê die departement het borgskappe van twee groot maatskappye bekom:
# Rugby: Die Haaie se Springbok-agterspeler, Ethan Hooker, gaan ‘n operasie ondergaan om die omvang te bepaal van die skouerbesering wat hy opgedoen het tydens ‘n omstrede voorval tydens verlede naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ospreys. Luke Morgan het op hom geval nadat hy ‘n drie gedruk het, en sy skouer ontwrig. Hooker sal na verwagting geruime tyd buite aksie wees. Die VRK se uitwysings-kommissie het intussen besluit Morgan se gedrag was nie op die vlak van ‘n rooikaart nie nadat die Haaie ‘n formele hersiening versoek het.
Die spanning loop intussen hoog in die VRK, met slegs drie groepsrondes oor. Die top-twee spanne op die punteleer, Glasgow Warriors en die Stormers, sal môre in Kaapstad sake uitspook, terwyl die Haaie in die Skotse hoofstad teen Edinburgh te staan kom. Die Leeus is die gashere vir die Ierse span Connacht in Johannesburg en die Bulle pak Scarlets in Wallis. Die Leeus is nou vierde op die punteleer, die Bulle agtste en die Haaie elfde. Die top-agt spanne kwalifiseer vir die kwarteindronde.
# Motorsport: Formule Een sê die eerste oefenronde vir volgende naweek se Grand Prix in Miami word met 90-minute verleng na die onlangse regulatoriese en tegniese aanpassings, asook die gaping van vyf weke sedert die laaste wedren. Daar is ook ‘n snelwedren, wat die naweek se beskikbare oefentyd verminder. Sommige van die veranderinge sluit in die berging van energie en die ontplooiings-beperking om te kwalifiseer, die beperking van kraggebruik in draaie om veiligheid te verbeter, en wysigings aan die wegspringprosedure.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, speel vandag sy eerste wedstryd van die Madridse Ope in die Spaanse hoofstad. Die Italianer sal teen die Fransman Benjamin Bonzi te staan kom in die ronde van 64 na ‘n loslootjie in die eerste ronde. Bonzi het sy landgenoot Titouan Droguet uitgeskakel. Sinner se beste vertoning in drie toernooie in Madrid was in 2024, toe hy die kwarteindronde gehaal het. Hy is egter vanjaar die volslae gunsteling in die afwesigheid van die plaaslike held en nommer-twee, Carlos Alcaraz, wat beseer is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….