Nuus 11:00
BULLETIN 24 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra groter samewerking om Suid-Afrika se ontwikkeling te bevorder
# Trump sê hy is onder geen druk om die oorlog teen Iran te beëindig nie
# En sokker: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur neem 16 ondersteuners na die Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika
# President Cyril Ramaphosa sê ‘n volhoubare, billike en florerende ekonomie is afhanklik van gesamentlike optrede. Hy het die hoofrede gelewer op die Nasionale Sake-inisiatief se 30ste herdenking in Johannesburg. Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid fokus op inklusiewe groei en werkskepping, aandag aan armoede en hoë lewenskoste en die bou van ʼn bekwame, etiese en ontwikkelende staat:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê bevoegde mense moet in geskikte poste aangestel word om ʼn omgewing te skep waar munisipaliteite doeltreffend kan funksioneer. Die Witskrif oor Plaaslike Regering se hersieningsproses sal die skeiding van munisipale en politieke aanstellings bekendstel. Hlabisa sê indien ʼn burgemeester nie finansiële state, begrotings en oudit-uitkomstes verstaan nie, kan die persoon nie die owerheid se bestuur vir die volgende tien jaar beplan of die administrasie aanspreeklik hou nie.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys en Opleiding het ernstige kommer uitgespreek oor die SETA vir Onderwys, Opleiding en Ontwikkelingspraktyke se versuim om verslag te doen oor sy besteding van diskresionêre toelaes. Die SETA kan nie rekenskap gee van 637-miljoen-rand se toelaes wat deur die Ouditeur-generaal uitgewys is nie. Voorsitter Tebogo Letsie sê hulle is ook bekommerd oor 42-miljoen-rand wat vir studente-toelaes geoormerk is, maar nie betaal is nie. Die komitee sê sonder behoorlike ondersteunende dokumente kan die vloei van fondse nie bepaal word nie.
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê hy is onder geen druk om die oorlog teen Iran vinnig te beëindig nie, ondanks sy oorspronklike vooruitskatting van ses weke. Hy is tevrede om Iran se hawens te versper en ekonomiese skade te berokken sonder om die oorlog te hervat of ʼn ooreenkoms te verhaas. Trump sê ʼn vredesooreenkoms sal slegs volg wanneer dit Amerika, sy bondgenote en die res van die wêreld bevoordeel:
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê 16 super-ondersteuners sal ‘n ten volle betaalde reis wen om Bafana Bafana te ondersteun op die Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. ‘n Paneel van kundiges in Suid-Afrikaanse sport en vermaak, onder meer Robert Marawa en Andile Ncube, sal een gelukkige ondersteuner uit elke Premierliga-sokkerklub kies. McKenzie sê die departement het borgskappe van twee groot maatskappye bekom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-692-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-681-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 100-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….