Nuus 09:00
BULLETIN 24 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP is bekommerd oor die waarnemende leierskap in die SAPD
# Dertien polisiebeamptes is in hegtenis geneem vir korrupsie en afpersing
# En ‘n Amerikaanse soldaat is vasgetrek vir weddenskappe op Nicolas Maduro se gevangeneming
# Die IVP het kommer uitgespreek omdat belangrike posisies in die veiligheidsgroepering toenemend deur persone in ‘n waarnemende hoedanigheid beklee word. Dit volg na die voorlopige skorsing van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, en aanstelling van Puleng Dimpane as waarnemende kommissaris. Nhlanhla Hadebe van die IVP sê Suid-Afrikaners loop deur onder hoë misdaadvlakke en onsekerheid, daarom kan die land nie onsekerheid of swak bevelstrukture op die hoogste wetstoepassingsvlakke bekostig nie:
Die GOOD-party sê intussen Masemola, moet bedank omdat hy aan die hoof gestaan het van vermeende faksies en korrupsie in die polisiediens se senior geledere. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Masemola moet aanspreeklik gehou word vir sy onvermoë om faksies en wetteloosheid in die polisie te keer:
# Die Valke het in twee afsonderlike voorvalle 13 polisiebeamptes in Johannesburg vasgetrek op aanklagte van korrupsie, afpersing en betreding. In die eerste voorval is nege polisiebeamptes gearresteer nadat hulle ʼn pakstoor in Crown Mines deursoek en probeer het om omkoopgeld van die eienaar te eis. Die Valke-woordvoerder, Katlego Mogale, sê in ʼn ander voorval het vier beamptes kennisgewings ontvang om op aanklagte van diefstal in die hof te verskyn. Sy sê dit volg na ʼn ondersoek van ʼn voorval in Augustus 2024:
# ‘n Amerikaanse soldaat in die spesiale mag wat die Venezolaanse president Nicolas Maduro gevange geneem het, is in hegtenis geneem. Dit volg nadat Gannon Ken Van Dyke na bewering van 27 Desember 2025 tot 2 Januarie op Polymarket, ‘n kriptogedrewe platform, 13 weddenskappe geplaas het oor die politikus se afsetting. Hy het sowat 6,66-miljoen-rand wins gemaak. Van Dyke word aangekla van die onwettige gebruik van geheime regeringsinligting vir persoonlike gewin, diefstal van privaat regeringsinligting, handelsbedrog, aanlynbedrog en die doen van ‘n onwettige geldelike transaksie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, speel vandag sy eerste wedstryd van die Madridse Ope in die Spaanse hoofstad. Die Italianer sal teen die Fransman Benjamin Bonzi te staan kom in die ronde van 64 na ‘n loslootjie in die eerste ronde. Bonzi het sy landgenoot Titouan Droguet uitgeskakel. Sinner se beste vertoning in drie toernooie in Madrid was in 2024, toe hy die kwarteindronde gehaal het. Hy is egter vanjaar die volslae gunsteling in die afwesigheid van die plaaslike held en nommer-twee, Carlos Alcaraz, wat beseer is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-641-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-661-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….