Nuus 06:00
BULLETIN 24 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa belowe sterker optrede teen georganiseerde misdaad en korrupsie
# AfriForum sê Masemola se skorsing weerspieël ’n lang agteruitgang in SAPD-leierskap
# En Mbalula sê die SAKP en ANC is nie vyande nie
# President Cyril Ramaphosa het die regering se verbintenis tot die verskerping van die stryd teen georganiseerde misdaad, korrupsie en geweld herbevestig. Na die aanstelling van die waarnemende nasionale polisiekommissaris Puleng Dimpane, het Ramaphosa gesê dit is kommerwekkend dat die geskorste kommissaris Fannie Masemola aanklagte in die gesig staar, maar voer aan dit sal nie die moraal in polisiëring verswak nie. Die president het bygevoeg die sekerheidsgroep het beduidende vordering gemaak met ‘n strategie teen georganiseerde misdaad, en die Madlanga-kommissie het ook reeds goeie vordering gemaak:
AfriForum sê intussen die voorsorgskorsing van Masemola beklemtoon ‘n langdurige leierskapskrisis in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Jacques Broodryk van AfriForum waarsku herhaalde leierskapsveranderinge kan die bestendigheid van die SAPD vererger en openbare vertroue skaad:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, dring daarop aan dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party ‘n kameraad bly, en nie ‘n teenstander is nie. Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee het lede van die SAKP met dubbele lidmaatskap opdrag gegee om vir die ANC stemme te werf vir die plaaslikeregeringsverkiesing. Dit is in reaksie op die SAKP se besluit om onafhanklik aan die verkiesing deel te neem. Dit is sonder uitsondering bindend op alle lede. Mbalula sê daar is geen vyandigheid tussen die ANC en SAKP nie:
# Die vakbonde NUMSA en UASA het die goudmynmaatskappy Gold Fields beskuldig dat hy te kwader trou onderhandel. Die vakbonde eis ‘n loonverhoging van 13-persent. Gold Fields bied ‘n loonverhoging van 5,2-persent aan, wat in 2027 en 2028 tot ses-persent beperk sal word vir die laagsbesoldigde, intreevlak-, ongeskoolde en semi-geskoolde werknemers. Vir mynwerkers, ambagslui en amptenare bied die maatskappy ‘n loonverhoging van 4,5-persent, wat tot 5,5-persent beperk sal word. Die vakbonde sê die maatskappy is hardnekkig en kan aan hul eise voldoen.
# Die Europese Unie het Donderdag amptelik ‘n lening van 1,7-duisend-miljard-rand aan Oekraïne goedgekeur en nuwe sanksies teen Rusland ingestel. Dit is voor ‘n informele beraad van die blok se leiers in Ciprus wat deur die Oekraïense president Volodymir Zelensky bygewoon sal word. Die lening sal na verwagting twee-derdes van Oekraïne se behoeftes vir die volgende twee jaar dek. Die hoof van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê terwyl Rusland sy aggressie verdubbel, verdubbel die EU sy steun aan die Oekraïense nasie. Zelensky sê die pakket sal Oekraïne meer veerkragtig maak en die land in staat stel om sy verpligtinge teenoor sy burgers na te kom.
# Rugby: Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi is na ‘n kuitbesering terug in die span vir die Haaie se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd vanaand in Edinburgh – die laaste wegwedstryd van die seisoen. Kolisi is op die reserwebank en dit sal sy 50ste toets vir die Haaie wees. Afrigter JP Pietersen het losskakel Siya Masuku as binnesenter ingebring en kaptein Andre Esterhuizen het na nommer 13 geskuif. Makazole Mapimpi vervang Ethan Hooker op vleuel. Die voorspelerpak is dieselfde as verlede week, met Springbok-staatmakers Ox Nche en Vincent Koch ook weer op die reserwebank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-341-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-693-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….