Nuus 18:00
BULLETIN 23 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa skors Fannie Masemola voorlopig
# Die ACDP vra vir die skorsing van Kagiso Lerutla voor borgtogaansoek
# En, rugby: die Crusaders wy ‘n nuwe permanente rugbystadion in met ‘n wedstryd teen die Waratahs
# President Cyril Ramaphosa het die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola voorlopig geskors na aanklagte wat verband hou met beweerde oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Die polisie se finansiële hoof, Puleng Dimpane, is as waarnemende nasionale kommissaris aangestel. Ramaphosa sê die regering bly gefokus op die versterking van wetstoepassing, die bekamping van georganiseerde misdaad en korrupsie, en die herstel van openbare vertroue in polisiëring:
# Die African Christian Democratic Party eis die skorsing van die Ekurhuleni stadsbestuurder, Kagiso Lerutla wat van Bylae 5-oortredings aangekla is, terwyl hy vandag in die Boksburg Landdroshof om borgtog aansoek doen. ACDP Ekurhuleni-raadslid, Tambo Mokoena, sê die party het Kagiso Lerutla se aanstelling as stadsbestuurder in Oktober verlede jaar teengestaan en wys daarop dat sy vorige aanstelling as Ekurhuleni se finansiële hoof onwettig was. Hy doen ‘n beroep op stadsleiers om eties en aanspreeklik te wees:
# Die Pentagon het aangekondig die minister vir die Amerikaanse Vloot, John Phelan, verlaat die Trump-administrasie onmiddellik. Woordvoerder Sean Parnell het in ‘n plasing op sosiale media gesê adjunkminister Hung Cao sal waarneem in die posisie, wat grootliks administratief is. Phelan is die jongste hooggeplaaste militêre leier wat die administrasie in die onlangse maande verlaat. Sy vertrek kom te midde van die Amerikaans-Israelse oorlog met Iran en die voortgesette Amerikaanse versperring van die Seestraat van Hormoes. Die Vloot het geen rede verskaf nie.
# Rugby: Nieu-Seeland se Crusaders-span, gaan môre hul nuwe stadion in Christchurch inwy met ‘n Superrugby Pacific-wedstryd teen die Waratahs. Die Te Kaha-stadion is teen ‘n koste van 6,6-miljard-rand gebou om Lancaster Park te vervang, wat ernstig was tydens ‘n aardbewing in 2011 beskadig is. Die Crusaders is sedertdien sonder ‘n permanente tuisveld. Die nuwe stadion het ‘n dak wat toegeskuif kan word en bied sitplek vir 25-duisend toeskouers. Dit word verwag dat die stadion stampvol sal wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-005-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-731-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 98-dollar-10-sent per vat.
# En laastens, die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het gemeenskappe aangespoor om lees te omhels met Wêreldboekedag wat vandag gevier word. Die provinsie het die Op-Woensdae-Lees-Ons-veldtog begin om ‘n leeskultuur buite klaskamers te bevorder. Amptenare sê gereelde lees verbeter taal, kognitiewe vaardighede en geesteswelstand. Hy het inwoners, skole en organisasies aangemoedig om weekliks deel te neem, wat help om ‘n sterker leeskultuur in gemeenskappe te vestig en langtermyn opvoedkundige en ekonomiese ontwikkeling ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….