Nuus 15:00
BULLETIN 23 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa en die waarnemende minister van Polisie gaan die land toespreek terwyl die polisiekrisis verdiep
# Prins Harry besoek Kiëf om steun aan Oekraïne te toon
# En krieket: Mitchell Starc is fiks om by die IPL aan te sluit
# President Cyril Ramaphosa gaan vanmiddag die nasie toespreek te midde van voortdurende onstuimigheid binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy sal vergesel word deur die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia. Die toespraak volg op die onlangse verskyning van nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola in die Pretoriase Landdroshof, waar hy teregstaan op vier aanklagte wat verband hou met beweerde oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Dit gaan oor ‘n omstrede tender van 360-miljoen-rand wat aan die vermeende misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala toegeken is.
# Die SAKP se sekretaris-generaal, Solly Mapaila, het lede aangespoor om vas te staan teen ultimatums van sy alliansievennoot, die ANC. Hy het op ‘n nuuskonferensie gesê die SAKP sal by sy onafhanklikheid en beginsels staan te midde van toenemende spanning oor planne om onafhanklik aan die plaaslike regeringsverkiesing deel te neem. Mapaila waarsku teen interne druk wat tot dissiplinêre optrede kan lei en versoek beskerming van die party se agenda:
# Die vakverbond Cosatu sê hy is steeds bekommerd oor munisipaliteite se toenemende skuld aan Eskom. Die kragvoorsiener het in Maart gesê die totale munisipale skuld beloop meer as 110-miljard-rand, en kan teen 2028 tot 200-miljard-rand styg. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê die reuse-slimmeterprojek vir munisipaliteite wat Eskom baie geld skuld, kan moontlik hierdie tikkende tydbom hanteer:
Nuus uit die buiteland:
# Prins Harry van Brittanje het ‘n onaangekondigde besoek aan die Oekraïnse hoofstad Kiëf afgelê in ‘n blyk van ondersteuning vir die land wat in sy vyfde jaar van ‘n oorlog met Rusland gewikkel is. Hy gaan tydens die tweedaagse reis na verwagting ‘n sekerheidskonferensie in Kiëf bywoon. Harry sê Oekraïne verdedig Europa se oostelike flank dapper en suksesvol. Hy sal na verwagting die myn-verwyderingsorganisasie HALO Trust besoek en tyd deurbring saam met Oekraïnse deelnemers aan sy Invictus-stigting, wat gewonde veterane help om deur sport te herstel.
# Krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc is gereed vir die Indiese Premierliga nadat hy van skouer- en elmboogbeserings herstel het. Die 36-jarige was sedert Januarie buite aksie nadat hy deel was van die sege van 4-1 oor Engeland in die reeks om die As, en die Big Bash. Starc sal moontlik volgende Vrydag beskikbaar wees vir Delhi Capitals se wedstryd teen Rajasthan Royals. Sy landgenoot Pat Cummins, wat ‘n rugprobleem gehad het, speel die naweek vir Sunrisers Hyderabad in sy eerste wedstryd van die IPL-seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-510-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-698-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….