Nuus 14:00
BULLETIN 23 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa en die waarnemende minister van Polisie gaan die land toespreek terwyl die polisiekrisis verdiep
# Binnelandse Sake verwerp berigte dat Lesotho se burgers sonder paspoorte na Suid-Afrika mag reis
# En sokker: ‘n Gesant van Trump vra Italië moet Iran vervang in die Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa gaan vanmiddag die land toespreek te midde van voortdurende onstuimigheid binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy sal vergesel word deur die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia. Die toespraak volg op die onlangse verskyning van nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola in die Pretoriase Landdroshof, waar hy teregstaan op vier aanklagte wat verband hou met beweerde oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Dit gaan oor ‘n omstrede tender van 360-miljoen-rand wat aan die vermeende misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala toegeken is.
Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement, Julius Mkhwanazi, het intussen aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling teen hom ontken in die Boksburgse Landdroshof in Gauteng. Hy en sy medebeskuldigde, Ekurhuleni se stadsbestuurder Kagiso Lerutla, het na bewering in 2019 ‘n plan uitgedink om hofverrigtinge deur vals verteenwoordiging te ontduik, en 400-duisend-rand gedeel. Mkhwanazi se regsverteenwoordiger, Peter Wilkins, het in die borgtog-aansoek gesê aanhouding moenie dien as straf voor die verhoor nie:
# Die Departement van Binnelandse Sake sê berigte dat burgers van Lesotho nie meer geldige paspoorte nodig het om na Suid-Afrika te reis nie, is vals. Amptenare van Suid-Afrika en Lesotho het verlede week vergader en ‘n verslag ontvang van ʼn gesamentlike taakspan wat die ontwikkeling van ʼn nuwe migrasiemodel ondersoek het. Die departement se woordvoerder, Thulani Mavuso, sê dit sal Suid-Afrikaanse wette skend as mense die land sonder ʼn geldige paspoort binnekom:
Nuus van oorsee:
# Twee treine het op die Gribskov-lyn noordwes van Kopenhagen in Denemarke gebots, met vier mense wat kritiek beseer is en 13 ander in die hospitaal. Die treine was onderweg in die Noord-Seeland-gebied. Die lyn is gewild onder inwoners, werkers en studente. Spoorwegongelukke is seldsaam in Denemarke en ‘n kenner meen een van die treine het moontlik op die verkeerde spoor beland nadat ’n stopsein geïgnoreer is. Die Gribskov-lyn is waarskynlik nie met ‘n outomatiese veiligheidstelsel toegerus nie.
# Sokker: ‘n Senior gesant van die Amerikaanse president, Donald Trump, het FIFA versoek om Iran met Italië te vervang in die Wêreldbekertoernooi in die land, Kanada en Mexiko. Italië het verlede maand teen Bosnië en Herzegovina verloor in sy laaste uitspeelstryd en die derde keer nie daarin geslaag om te kwalifiseer nie. Die Italiaans-gebore Paolo Zampolli het aan Financial Times gesê dit sal ‘n droom wees om die Azzurri in ‘n Amerikaanse toernooi te sien, en meen Italië het die agtergrond om insluiting te regverdig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-389-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-690-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 98-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….