Nuus 12:00
BULLETIN 23 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die stralerbrandstof-prysverhogings laat vliegkaartjiepryse skerp styg in Suid-Afrika
# ‘n Polisiebeampte is dood en een gewond in ‘n skietvoorval in die Oos-Kaap
# En Krieket Suid-Afrika soek alternatiewe uitsaaivennote in Brittanje vir die reeks tussen Suid-Afrika en Engeland
# Die prys van vliegkaartjies in Suid-Afrika het skerp gestyg nadat stralerbrandstofpryse verhoog het weens die konflik in die Midde-Ooste. FlySafair sê brandstofpryse het binne ‘n week met tot 70-persent gestyg, wat meer as die helfte van die vlugkoste uitmaak. Die redery het daarom ʼn tydelike bybetaling ingestel. ʼn Retoervlug tussen Johannesburg en Kaapstad kos nou meer as vier-duisend-rand, wat byna dubbel die gewone prys is. Die lugredery sê op sommige roetes word meer as 800-rand by die kaartjieprys gevoeg, wat reiskoste aansienlik verhoog.
# Die Oos-Kaapse polisie het ʼn soektog begin ná die moord op ʼn senior polisiebeampte in New Brighton, Mthatha. ʼn Vroue-beampte is gewond. Polisiewoordvoerder Nobuntu Gantana sê volgens ʼn voorlopige ondersoek het ʼn wit Volkswagen Polo sowat twee uur voor die skietery naby die aanvalstoneel geparkeer gestaan:
# Die landbou-organisasie TLU SA verwelkom die aankoms van twee-miljoen dosisse bek-en-klouseer-entstof van Dollvet in Turkye. Dis die eerste besending van die bestelling van ses-miljoen wat by Dollvet geplaas is deur hul plaaslike agentskap, Dunevax. Suid-Afrika het sedert Februarie altesaam vier-miljoen dosisse entstofdosisse ontvang. Bennie van Zyl van TLU SA sê die regering moet die privaat sektor betrek by die verkryging en toediening van die entstowwe:
Nuus uit die buiteland:
# Die Europese Kommissie stel 454-miljard-rand se humanitêre hulp beskikbaar aan kwesbare mense in Wes- en Sentraal-Afrika. Die fondse sal mense ondersteun wat deur huidige konflikte en voedselkrisse geraak word of met geweld ontheem is, en is ook bedoel vir gasheer-gemeenskappe en moeilik-bereikbare bevolkings. Die lande sluit Kameroen, Nigerië, Burkina Faso en Tsjaad in. Die Europese Kommissie sê konflik is die basiese oorsaak van die humanitêre krisisse, en dit word vererger deur die uitwerking van klimaatsverandering en plaaslike faktore wat met regering en hulpbronne verband hou.
Nou sportnuus:
# Krieket Suid-Afrika sukkel volgens berigte om ‘n Britse televisieregtekontrak te sluit vir Engeland se reeks in Suid-Afrika van Desember tot Januarie. Die reeks sluit drie toetse en drie eendagwedstryde in. Dit sal Engeland se eerste toetsreeks in sewe jaar in Suid-Afrika wees. Volgens The Guardian het Sky Sports nie ‘n aanbod aanvaar om die langtermynkontrak wat verlede jaar verstryk het, te hernu nie. TNT Sports stel belang om die televisieregte te koop, maar koste is ‘n probleem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-en-25-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-719-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….