Nuus 11:00
BULLETIN 23 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê sy ondersoek na dieselaankope en -berging is byna afgehandel
# Libanon se eerste minister beskuldig Israel van oorlogmisdade na die dood van nog ‘n joernalis
# En Krieket Suid-Afrika soek alternatiewe uitsaaivennote in Brittanje vir die reeks tussen Suid-Afrika en Engeland
# Eskom sê sy interne ondersoek na moontlike onreëlmatighede met die verkryging van diesel en bergingskontrakte is byna afgehandel. Die Appèlhof het die kragvoorsiener opdrag gegee om AfriForum toegang te gee tot sekere steenkool-, diesel- en vervoerkontrakte. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die ondersoek wat gedoen word deur die pasgestigte Departement van Groep-ondersoeke en Sekerheid, bly onderworpe aan interne beheer-, regs- en versekeringsprosesse:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie is bekommerd dat die Konstitusionele Hof se beslissing sommige menseregte-oortreders kan toelaat om sy aanbevelings te ignoreer indien daar nie ‘n hofbevel is nie. Die hoogste hof het gister beslis dat die kommissie se bevindings nie wetlik bindend is nie, en regs-ingryping nodig is om dit in te stel. Woordvoerder Henk Boshoff het aan die SABC gesê die uitspraak verminder nie die kommissie se grondwetlike belangrikheid nie:
# Statistieke Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het in Februarie met 1,6-persent op ‘n jaargrondslag gestyg, hoofsaaklik dansky groei in ander kleinhandelaars en klere-, skoeisel- en tekstielwinkels. Verkope het egter met een-persent gedaal teenoor Januarie op ‘n seisoensaangepaste grondslag, wat gemengde maandelikse prestasie weerspieël. Raquel Floris van Statistieke SA sê kleinhandelverkope het oor ‘n tydperk van drie maande met 2,8-persent gestyg, ondersteun deur algemene handelaars en klerewinkels, terwyl voedsel- en drankwinkels ‘n afname aangeteken het:
Nuus uit die buiteland:
# Die Libanese eerste minister, Nawaf Salam, het Israel van oorlogmisdade beskuldig na ‘n Israelse aanval in Suid-Libanon waarin ‘n joernalis dood is. Amal Khalil, wat vir Libanon se koerant Al Akhbar gewerk het, is dood terwyl sy ondersoek gedoen het naby die dorp al-Tayri. Sy is die vierde joernalis wat Israel sedert Maart in Libanon doodgemaak het. Israel se Weermag sê hulle teiken nie joernaliste nie en probeer hulle beskerm terwyl hulle vir die veiligheid van Israelse soldate moet sorg. Salam sê Libanon sal geen moeite ontsien om oorlogmisdade by die betrokke internasionale instellings aanhangig te maak nie.
Nou sportnuus:
# Krieket Suid-Afrika sukkel volgens berigte om ‘n Britse televisieregtekontrak te sluit vir Engeland se reeks in Suid-Afrika van Desember tot Januarie. Die reeks sluit drie toetse en drie eendagwedstryde in. Dit sal Engeland se eerste toetsreeks in sewe jaar in Suid-Afrika wees. Volgens The Guardian het Sky Sports nie ‘n aanbod aanvaar om die langtermynkontrak wat verlede jaar verstryk het, te hernu nie. TNT Sports stel belang om die televisieregte te koop, maar koste is ‘n probleem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-162-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-711-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 97-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….