Nuus 17:00
BULLETIN 22 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom beloof ligte sal hierdie winter aan wees sonder enige voorspellings van beurtkrag
# Abraham Nkhwashu verwerp bewerings dat vergaderings by die ‘White House’ met korrupsie verband gehou het
# En tennis, Jannik Sinner hoop die Madridse Ope in Spanje verbeter sy kanse om die Franse Ope te wen
# Eskom sê hy verwag nie beurtkrag hierdie winter nie, met verwysing na verbeterde kragstelsel-bestendigheid en ‘n betroubare opwekkingsvloot. Die kragreus verwag ‘n bestendige elektrisiteitsvoorsiening vanaf hierdie maand tot Augustus, ondersteun deur minder onderbrekings, verhoogde onderhoud en ‘n oorskot vir spitstye. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê voortgesette hervormings en kostebesparings het die netwerk versterk, maar waarsku vertragings met nuwe kragprojekte kan gevare vir langtermyn-energiesekerheid ná 2029 inhou.
# Die geskorste adjunk-distrikspolisiekommissaris van Sedibeng, Abraham Nkhwashu, het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het byeenkomste bygewoon by ‘n perseel bekend as die ‘White House’, wat as die Northcliff Boetiekhotel geïdentifiseer is. Nkhwashu sê hy het via mediaberigte bewus geword van bewerings wat die perseel met korrupsie verbind, maar hou vol sy besoeke was sosiaal en werkverwant. Hy sê die byeenkomste was vir SAPD-beamptes om na werk sosiale verhoudings te ontwikkel:
# Kommer neem toe oor brandstofmanipulering in Suid-Afrika, met wydverspreide en gevorderde onwettige vermengings van paraffien en diesel. Die hoof- bedryfsbeampte van ‘n toonaangewende verskaffer van risikobestuur- en veiligheidsdienste in Suid-Afrika, Waal de Waal, het aan eNCA gesê meer as 100 vermoedelik onwettige depots is in Gauteng, Mpumalanga en Limpopo geïdentifiseer. Hy sê brandstofbesoedeling is lank reeds ‘n bron van kommer, maar die vermenging van diesel met paraffien en ander vloeistowwe hou aan toeneem:
# Pous Leo het hom op die laaste volle dag van sy besoek aan vier Afrika-lande uitgespreek teen rykdom-ongelykheid. Hy het gelowiges in Ekwatoriaal-Guinee aangemoedig om die gaping tussen rykes en armes te oorbrug. Leo, wat die Amerikaanse president, Donald Trump, omgekrap het met sy uitgesprokenheid oor oorlog en tirannie, het ook ‘n maksimumsekuriteitsgevangenis besoek waar menseregtegroepe sê politieke gevangenes in aaklige toestande aangehou word. Hy het die dag in Mongomo begin met ‘n mis in Sentraal-Afrika se grootste godsdiens-struktuur waar hy deur nagenoeg 100-duisend mense verwelkom is.
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner hoop die Madridse Ope in Spanje sal sy kanse verbeter om die Franse Ope te wen en ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi. Die wêreld-nommer-een is die besliste gunsteling in die afwesigheid van die plaaslike held en nommer-twee, Carlos Alcaraz. Hy het twee van sy vier Grand-Slam-titels in Australië behaal en die ander op Wimbledon en die Amerikaanse Ope, maar Roland Garros ontwyk hom nog. Sinner sê hy het nog nooit goed gespeel in die Spaanse hoofstad nie, maar hoop sake verander vanjaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-448-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-745-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….